Stukkie biltong … dit kan mos nie waar wees

pilleEk het nou al van baie flou verskonings gehoor wanneer `n sportman uitgevang word wanneer hy postief getoets word vir die gebruik van ‘n verbode middel. Nou kan dié ene by die lysie gevoeg word.

Voorheen is daar al gesê dit was in daardie tandepasta wat gebruik is, in daardie biefstuk wat verorber is, in daardie koppie koffie wat gedrink is, en dat iemand dit al jare lank vir asma gebruik (hoewel hy of sy nog nooit voorheen asmaprobleme ondervind het nie).

Die Engelse rugbyspeler Sam Broster, wat van Tytheringham in Cheshire afkomstig is, is vir twee jaar deur die Britse agentskap teen verbode middels (Ukad) geskors vir die gebruik van die anaboliese middel, clenbuterol. Broster is reeds in 2014 in Macclesfield buiteseisoens getoets, maar is nou eers ná `n uitgerekte verhoor skuldig bevind en van Augustus 2014 tot Augustus 2016 geskors.

Broster het volgens die BBC gesê dat hy oorsee was en biltong geëet het (kan dit enige ander plek as in Suid-Afrika wees?) wat dalk besmet kon gewees het.

Daar was voorheen al gevalle waar besmette vleis `n rol kan speel wanneer `n sportman positief getoets word, maar as biltong die oorsaak was, sou elke tweede Suid-Afrikaanse speler mos positief getoets word.

Verskeie ander sportlui was voorheen ook in die sop oor die gebruik van clenbuterol.

Guillermo Mota, `n bofbalspeler van die San Francisco Giants, is in 2006 vir 100 wedstryde geskors en so wrintiewaar weer in in 2012 vir dieselfde oortreding.

Só ook swemmers (soos Jessica Hardy), fietsryers (soos Alberto Contador), kanovaarders, liggaamsbouers en boksers (soos Erik Morales).

Dis `n middel wat deur asmalyers gebruik word, dit verbeter onder meer asemhaling, suurstofvloei en bloedtoevoer. Dit word ook gebruik om gewig te beheer en word goedgekeur in lande soos Bulgarye en Rusland, en ook in China, maar is taboe vir sportlui. Dit kan ook net per voorskrif verkry word.

Suid-Afrika het, net soos die res van die wêreld, eers in die jare negentig bewus geword van die misbruik van anaboliese steroïde en middels wat vertonings verbeter.

Ek onthou nog die middag op Ellispark toe ons voor `n Curriebekwedstryd gehoor het dat Balie Swart positief getoets is. Hy was nie by die Transvaalse kapteinsoefening nie en daar was groot geheimhouding. Die Transvaale rugbybaas dr Louis Luyt was daar en hy het ons ingelig oor die postiewe toets. Ons het eintlik nie geweet hoe om te te hanteer nie, want dit was braak veld.

Min het ons besef dat dit die punt van die ysberg sou wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.