Suid-Afrikaner in Engelse oefengroep ingesluit

Michael Rhodes (Foto Twitter @MikeRhodes7)

Nóg ʼn Suid-Afrikaner is Donderdag in die nasionale oefengroep van ʼn oorsese land ingesluit.

Die Engelse afrigter, Eddie Jones, wat onder druk verkeer om sy Novembertoetse te wen, het Michael Rhodes in sy groep betrek.

Rhodes het van 2010 en 2015 Superrugby vir die Sharks (sewe wedstryde), die Lions (11) en die Stormers (26) gespeel, voordat hy hom laat in 2015 by Saracens aangesluit het.

Hy het intussen ʼn slag vir die Barbarians gespeel, en kom op verblyfgrondslag vir die Engelse span in aanmerking.

Jones is ʼn dag of twee gelede deur die uitvoerende hoof van die Engelse Rugbyunie (RFU), Stephen Brown, voor stok gekry en voor ʼn ultimatum gestel dat hy die Novembertoetse moet wen.

Die RFU het pas baie duur vir verbeterings aan Twickenham betaal, en ʼn verloorspan gaan klaarblyklik nie deug om die uitgawe te help delg nie.

Die vrugbare driedrukker Chris Ashton (heelagter of vleuel), wat in 2014 laas vir Engeland gespeel het, is ook in die groep.

Ashton het ses drieë in 2011 se toernooi om die Rugbywêreldbeker (RWB) gedruk, maar is uit die span vir 2015 se RWB-toernooi weggelaat.

Hy het later sy rug op Engelse rugby gekeer omdat hy, na berig is, keelvol daarvoor was dat ander oor sy loopbaan beskik, en vir Toulon in Frankryk gaan speel.

Engeland kies nie spelers wat in die buiteland speel nie, maar Ashton het nou by die Sale Sharks aangesluit, en is onmiddellik deur Jones nadergetrek.

Die Engelse groep –

Agterspelers

Chris Ashton (Sale Sharks), Mike Brown (Harlequins), Danny Cipriani (Gloucester Rugby), Joe Cokanasiga (Bath Rugby), Elliot Daly (Wasps), Nathan Earle (Harlequins), Owen Farrell (Saracens), George Ford (Leicester Tigers), Piers Francis (Northampton Saints), Gabriel Ibitoye (Harlequins), Alex Lozowski (Saracens), Joe Marchant (Harlequins), Jonny May (Leicester Tigers), Jordan Olowofela (Leicester Tigers), Dan Robson (Wasps), Henry Slade (Exeter Chiefs), Ben Spencer (Saracens), Ben Te’o (Worcester Warriors), Ben Youngs (Leicester Tigers).

Voorspelers

Luke Cowan-Dickie (Exeter Chiefs), Tom Curry (Sale Sharks), Jamie George (Saracens), Dylan Hartley (Northampton Saints), James Haskell (Northampton Saints), Alec Hepburn (Exeter Chiefs), Paul Hill (Northampton Saints), Nathan Hughes (Wasps), Nick Isiekwe (Saracens), Maro Itoje (Saracens), Joel Kpoku (Saracens), Joe Launchbury (Wasps), Courtney Lawes (Northampton Saints), Joe Marler (Harlequins), Michael Rhodes (Saracens), Chris Robshaw (Harlequins), Sam Simmonds (Exeter Chiefs), Kyle Sinckler (Harlequins), Jack Singleton (Worcester Warriors), Will Spencer (Leicester Tigers), Elliott Stooke (Bath Rugby), Sam Underhill (Bath Rugby), Mako Vunipola (Saracens), Harry Williams (Exeter Chiefs), Mark Wilson (Newcastle Falcons).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.