Suid-Afrikaner se rugby-vuurdoop in sneeu, reën

Rugby in die sneeu. Die Johannesburgs-gebore Guiseppe du Toit in aksie in sy eerste wedstryd vir Kanada. (Foto: Lorne Collicutt/Rugby Canada)

Rugby in die sneeu. Die Johannesburgs-gebore Guiseppe du Toit in aksie in sy eerste wedstryd vir Kanada. (Foto: Lorne Collicutt/Rugby Canada)

`n Vuurdoop in internasionale rugby is moeilik genoeg, maar dit kan kwalik erger wees as dit boonop in gure weer met sneeu en reën geskied.

Dis wat die Johannesburgs-gebore Guiseppe du Toit Sondag te beurt geval het toe hy sy buiging vir Kanada in die Amerikas-rugbykampioenskap (ARK) teen die Argentynse Vyftiental gemaak het.

Die Argentyne het die kragmeting in die Westhills-stadion, Langford, Brits-Columbië, 20-6 gewen in `n merkbare verbetering vir die Kanadese wat verlede jaar `n loesing van 21-54 in die ooreenstemmende wedstryd op die lyf geloop het.

Die rustydtelling was 3-3, maar die Argentyne het die oorhand in die tweede helfte gekry.

Mark Anscombe, Kanada se afrigter, glo sy span het te veel balbesit weggeskop wat die Suid-Amerikaners toegelaat het om keer op keer sterk teenaanvalle van stapel te laat loop.

Santiago Medrano en Segundo Tuclet het drieë vir die besoekers gedruk, en Domingo Miotti het albei verdoel en met twee strafdoele geslaag.

Die Esdorings se skrumskakel en kaptein, Gordon McRorie, het twee strafdoele op die telbord geplaas.

Oud-Lions-speler in omstrede voorval

`n Sterk terugvegpoging deur Amerika Saterdag in San Antonio, Texas, het verseker dat hy dié keer so te sê `n presiese ommekeer teen Uruguay bewerkstellig het.

Die Arende het 29-23 gewen nadat Uruguay verlede jaar 29-25 baas was.

Tod Clever, die tuisspan se een flank en `n gewese Lions- en Goue Leeus-speler, het `n geel kaart vir `n laat en gevaarlike duikslag op die lyf geloop in `n wedstryd waarin hoogvatte volop was. Kommentators meen Clever het `n rooi kaart verdien en die verwagting is dat hy verdere verantwoording vir sy daad sal moet doen.

Die voorval het die leemte beklemtoon wat die gebrek aan `n TV-skeidsregter in die Amerikas-reeks laat.
Uruguay was in `n stadium 23-16 voor, maar die Arende het laat in die wedstryd sake beklink.

JP Eloff, `n gebore Pretorianer wie se broer Philip ook al vir die Arende gespeel het, word onder meer in die media vir sy goeie spel uitgesonder, terwyl daar heelwat kritiek op die span se spel in die algemeen is.

Bryce Campbell (buitesenter) en Blaine Scully (regtervleuel en kaptein) het Amerika se drieë gedruk. Ben Cima (losskakel) en AJ MacGinty (buitesenter) het elk een verdoel. Cima het ook drie en MacGinty twee strafdoele in punte omskep.

Vir die Kiewiete het Facundo Gattas (haker) en Alejandro Nieto (agsteman en kaptein) agter die doellyn gaan kuier. Germán Albanell (losskakel) het albei verdoel en drie strafdoele behaal.

Tupis wreek hulle teen Kondors

In die Pacaembu-stadion in Sao Paulo, Brasilië, het die tuisspan verlede jaar se nederlaag van 22-25 teen Chili gewreek deur die Kondors 17-3 te verslaan.

Chili was nietemin rustyd 3-0 voor.

Matheus Cruz (plaasvervanger) en Felipe Sancery (buitesenter) het die Tupis se drieë gedruk. Moisés Duque (binnesenter) het albei verdoel en `n strafdoel bygevoeg.

Chili se punte is deur Mathias Nordenflycht met `n stafdoel aangeteken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.