Suid-Afrikaner stig beroepsliga in Brasilië

ʼn Suid-Afrikaner en drie vennote het pas aangekondig dat hulle ʼn beroepsliga in Brasilië op die been gaan bring, en hulle is op soek na oorsese spanne en spelers om die reeks ʼn hupstoot te gee.

Die plan is om aanstaande jaar reeds daarmee af te skop.

Beukes Cremer, wat ʼn in- en uitvoersaak in São Paulo bedryf, het aan Pale Toe! gesê hulle sal graag ook Suid-Afrikaanse en ander buitelandse spanne en spelers wil betrek, wat die spel in die land kan help ophef.

Hy het Brasilië sedert 2015 in 15 toetse as skrumskakel verteenwoordig.

Cremer en sy vennote – Marcello Sansone, Alexandre Chiofetti en Kleber Ferreira da Silva – hou ʼn aandeel van 51% in die liga en die klubs sal saam 49% besit.

Hulle hoop die liga sal uiteindelik uit tien spanne bestaan.

Hy sê die spanne sal ten volle privaat besit word, en die liga-owerheid sal nie by die bestuur daarvan betrokke wees nie, hoewel spanne aan bepaalde vereistes sal moet voldoen.

“Spanne moet minstens vyf en hoogstens 15 buitelanders insluit. Die res moet Brasiliane wees. Ons glo die formaat sal die Brasiliaanse spelers help om in oorsese geselskap sterker te ontwikkel.”

Cremer sê hulle sal graag buitelandse spanne wil insluit, wat saam met die liga kan groei.

“Ons onderhandel tans met vyf individue wat ernstig belangstel om franchise’e te koop, en verdere inligting hieroor sal te gelegener tyd bekend gemaak word.”

Besonderhede oor die fynere werking van die liga sal eweneens binnekort uitgereik word, het Cremer gesê.

Die beoogde liga is met ʼn wedstryd tussen twee uitnodigingspanne Barbarians en Los Dogos, saamgestel uit Brasilië se topspelers, aan die publiek en moontlike beleggers bekend gestel.

Dit het terselfdertyd gedien as voorbereiding vir die Brasiliaanse nasionale span se November-toer na Europa waar hy onder meer teen Duitsland en Spanje kragte sal meet.

Brasilië is een van die lande wat deur Wêreldrugby (WR) vir voorkeurontwikkeling uitgewys is, en belangstelling in die spel het na aanleiding van die afgelope Olimpiese Spele skerp gegroei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Andries ·

Knap gedaan. Oor twintig jaar gaan Brasilie onder die top tien in wereldrugby wees .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.