Suid-Afrikaners baljaar in Franse Liga

Montpellier se Suid-Afrikaners het baljaar in die jongste ronde van die Franse Top14-liga.

Hulle het 30 van hul span se punte in sy sege van 45-13 oor Pau aangeteken.

Die Springbokke Frans Steyn (binnesenter) en Bismarck du Plessis (haker), en die gewese Bulls-speler Paul Willemse (slot) het elk ʼn drie vir die wenspan gedruk.

Die Bok Ruan Pienaar (skrumskakel) het al ses Montpellier se drieë verdoel en met ʼn strafdoel geslaag om 15 punte op die telbord te plaas.

♦ Nóg ʼn Bok, Morné Steyn (banklosskakel), het ʼn skepdoel tot Stade Français se sege van 30-22 oor Brive bygedra.

♦ Castres moes die laaste nege minute van sy botsing teen Toulon met 14 man klaarkom toe sy Franse toetsskrumskakel Rory Kockott ʼn geelkaart op die lyf geloop het.

Toulon was met 59-13 baas.

Kockott het Superrugby vir die Lions en die Sharks gespeel.

Franse Pro D2-liga

♦ Die gewese Bolandse senter Danré Gerber, het ʼn strafdoel vir Mont de Marsan in sy Pro D2-halfeindstryd teen Perpignan behaal.

Perpignan het met 28-8 gewen, en Grenoble het die ander halfeindstryd teen Montauban met 22-15 beklink.

Engelse Premierliga

♦ In die Engelse Premierliga het die Bok Schalk Brits (bankhaker) en die gewese Suid-Afrikaanse Superrugbyspelers Brad Barritt (senter) en Michael Rhodes (flank) drieë vir Saracens in sy sege van 51-14 oor London Irish gedruk.

Barritt, ʼn Engelse toetsspeler, het vir die Sharks, en Rhodes vir die Sharks, die Lions en die Stormers gespeel.

♦ Die Bok Francois Hougaard (skrumskakel) het ʼn drie vir Worcester in sy oorwinning van 44-13 oor Harlequins gedruk.

♦ Willie le Roux (heelagter), nóg ʼn Bok, het ʼn drie vir Wasps teen Northampton gedruk.

Sy span het met 36-29 gewen.

Pro14-liga

♦ Die Skotse Pro14-derby tussen Glasgow en Edinburgh was ʼn gawe geleentheid vir die Van der Merwe-linkervleuels uit Suid-Afrika.

Edinburgh se Kanadese toetsvleuel DTH van der Merwe, wat in Worcester in die Boland gebore is, het twee drieë in sy 100ste wedstryd vir Glasgow Warriors gedruk.

Duhan van der Merwe, ʼn gewese SA o.21-speler wat die Blou Bulle in die opstelronde van die Curriebeker verteenwoordig het, het ʼn drie vir Edinburgh gedruk.

Laasgenoemde het met 24-19 gewen.

Roemeense Superliga

♦ Daar was nie Suid-Afrikaanse puntemakers met die hervatting van die Roemeense Superliga nie, maar Jonty Bredell word in die media vir sy uithalerspel vermeld.

Hy het op sy dag vir die Westelike Provinsie se o.19-span uitgedraf.

Sy span, Baia Mare, het in ʼn taai stryd met 26-27 teen die weermagspan Steaua Bucuresti verloor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.