Suid-Afrikaners help Hongkong tweede eindig

Matt Rosslee – 15 punte. (Foto: HKRU)

ʼn Klompie spelers met Suid-Afrikaanse bande het Saterdag hul deel gedoen om Hongkong tweede in Wêreldrugby se Hongkongse Beker van Nasies-toernooi te laat eindig.

Die Hongkongers het Kenia met 40-30 geklop (rustyd 22-13).

Matt Roslee, ʼn gewese Curriebeker-losskakel van Griekwas, het 15 punte met drie elk doelskoppe en strafdoele behaal, en die flank Toby Fenn het een van die wenspan se drieë gedruk.

Laasgenoemde is in Engeland gebore, maar sy ouers het kort daarna na Suid-Afrika verhuis, waar hy tien jaar gewoon het voor hy terug Engeland toe is om sy skoolloopbaan te voltooi.

Rosslee het as spelskepper uitgemunt met sy gladde balverspreiding en skerpsinnige besluitneming.

Nóg twee Suid-Afrikaners in die Hongkongse opdrafspan was Dayne Jans, ʼn gewese haker van die Westelike Provinsie se o.21-span, en Dylan Rogers, die vaskopstut, wat Vodacombekerrugby vir Griekwas en die WP gespeel het.

Kenia, wat deur ʼn gewese WP-speler, Jerome Paarwater, afgerig word, het nie sommer bes gegee nie, en die tuisspan hard vir sy sege laat werk.

Rusland het die toernooi die derde keer op die ry af gewen, deur Chili met 42-11 af te ransel (rustyd 35-11). Die Kondors het in die tweede helfte met nuwe durf gespeel, maar die Bere het hul doellyn verbete verdedig.

Jerome Paarwater – speldoelwitte bereik. (Foto: Facebook)

Chili was derde; en Kenia, wat die eerste keer aan die toernooi deelgeneem en al drie sy botsings verloor het, was laaste.

Paarwater het ná die toernooi opgemerk dat Kenia hom teen heelwat sterker teenstand voortreflik van sy taak gekwyt en in sy speldoelwitte geslaag het.

Belowende derdevlaklande van verskillende vastelande neem aan die toernooi deel, en dit bied aan hulle die geleentheid om hul beter vir hulle gewestelike reekse voor te berei.

Asië-kampioenskap

Singapoer het seker gemaak hy speel aanstaande jaar in Afdeling I van die Asië-rugbykampioenskap deur Saterdag Afdeling II in die Munisipale Stadion in Taipei te wen.

Hy het sy sterkste uitdager, Thailand, in die eindstryd met 38-13 oorrompel (rustyd 21-10).

Chinese Taipei het die derde plek ingeneem deur Indië met 37-19 te verslaan.

Indië, met die gewese Engelse toetssenter Henry Paul (hy het die Springbokke in 2004 op Twickenham met 32-16 help klop) as afrigter, het vurig weggespring en was binne 30 minute met 14-10 voor. Hy kon egter nie die pas volhou nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Ashley ·

Lees nou bykans elke dag. Suid-Afrikaanse spelers met bande help ieder en elke span wen. Waarom word deesdae soveel klem hierop gele? Dalk omdat ons effe skuldig voel?? Vra maar net. Cherokee, gee jou mening.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.