Suid-Afrikaners het sterk invloed op Texas-klub

Michael Reid (Foto: PRO Rugby USA)

Eugene (Loffie) Eloff en sy afrigters en spelers uit Suid-Afrika het gewis ʼn sterk invloed op die Texas-klub Austin Huns en sy sukses in Amerikaanse rugby.

Die Huns het ʼn vyftiental van die deelstaat Utah Saterdag in die vriendskaplike Senior Rugbyreeks met 48-22 geklop in ʼn kragmeting wat deur Eloff as baie fisiek bestempel is.

Utah se span is uit spelers van sy ses topklubs saamgestel, met ʼn gewese Tukkie en Blou Bul-sewesspeler, Ben Nicholls, as hulpafrigter. Nicholls, ʼn gebore Zimbabweër, het dié land in sewesrugby verteenwoordig.

Die Huns se skrumskakel, Michael Reid, ʼn gebore Durbaniet, het twee drieë gedruk en is as die speler van die wedstryd bekroon. Hy is met ʼn besering van die veld af, maar Eloff glo hy sal gereed wees vir die span se komende wedstryd teen die Dallas Reds.

Hanco Germishuys (flank), ʼn gewese Cravenweekspeler van Griekwas wat toetsrugby vir Amerika speel en dié land se o.20-kaptein is, het sy soveelste briljante vertoning gelewer en ook twee drieë gedruk.

Eloff laat weet Kyle Breytenbach (slot) was goed op die aanval en het eweneens twee drieë gedruk.

“Deon Minnaar het puik verdedig en ʼn hoë werkverrigting gehandhaaf.

“Martin Knoetze het stewig vertoon, en Zinzan Elan-Puttick het insgelyks op heelagter uitgeblink.”

Naas Eloff spog die Huns met die Suid-Afrikaners Danie de Villiers, Pedrie Wannenburg en JC de Wet in die afrigtingspan.

Dié reeks is ʼn proeflopie vir ʼn landwye beroepsliga wat aanstaande seisoen beplan word.

Taai driehoekstryd

♦ Die Suid-Afrikaners het vir net oor die die helfte van die Huns se punte (45) in die span se jongste wegholsege teen die Dallas Harlequins in die Red River-liga gesorg.

Die Huns het die weeromwedstryd met 89-5 gewen, nadat hulle die vorige keer met 68-5 koning gekraai het.

Germishuys het dié keer vier drieë gedruk.

Breytenbach het nes die afgelope Saterdag ʼn tweekuns behaal en Reid, Johannes de Wet (regtervleuel) en Knoetze (buitesenter) het elk ʼn drie gedruk.

Die Huns (20 ligapunte) is in dié liga in ʼn taai driehoekige stryd teen die Dallas Reds en die Austin Blacks (elk 21 ligapunte) gewikkel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.