Suid-Afrikaners kry 21 vir Franse Top14-klub

Drie Suid-Afrikaners het Saterdag saam 21 punte vir die Franse klub Montpellier in sy sege van 34-14 oor La Rochelle in die Top14-liga aangeteken.

Die Springbok Ruan Pienaar (skrumskakel) het 11 punte met ʼn doelskop en drie strafdoele bygedra, en nog ʼn Bok, Frans Steyn (binnesenter), vyf met ʼn doelskop en ʼn strafdoel. Paul Willemse (slot), ʼn gewese Superrugby-speler van die Bulls, het ʼn drie gedruk.

♦ Rory Kockott (bankskrumskakel) het Castres, die Franse Top14-kampioen, Saterdag in staat gestel om ʼn omgekrapte Lyon met 19-16 te klop, toe hy in die 79ste minuut ʼn strafdoel deur die pale geloods het. Die twee spanne het sedert die 49ste minuut met 16-16 gelykop geloop.

Kockott het Superrugby vir die Lions en die Sharks gespeel, en sedert 2014 die Hane in 11 toetse verteenwoordig.

Pro D2-liga

♦ In die Pro D2-liga het Hansie Graaff (losskakel), gewese Curriebeker-speler van die Griffons en Suidwestelike Distrikte, drie strafdoele vir Massy in sy nederlaag van 12-21 teen Bayonne behaal.

♦ Danré Gerber (losskakel) het ʼn doelskop bygedra tot Mont de Marsan se oortuigende oorwinning van 35-14 oor Beziers.

Gerber het Curriebeker-rugby vir Boland gespeel, en is die seun van die Boklegende Danie Gerber.

Fédérale 1-liga

♦ Die oud-Kapenaar Morné Vletter (losskakel) se drie doelskoppe en twee strafdoele was 12 punte vir Rennes werd, maar Dax het hul kragmeting met 34-27 gewen.

Hy het Durbanville-Bellville in die Westelike Provinsie se Superliga A verteenwoordig voor hy in 2010 Frankryk toe is.

Pro14-liga

♦ In die Pro14-liga het die gewese Lions-speler Jaco van der Walt (banklosskakel), ʼn doelskop vir die Skotse superklub Edinburgh teen die Walliese streekspan Ospreys (Swansea) behaal.

Die Walliesers het met 17-13 gewen.

Japanse Topliga

♦ Shane Gates (buitesenter) het ʼn drie vir NTT Shining Arcs teen Kobelco Steelers in die Japanse Topliga gedruk, wat deur die banklosskakel, Garth April, verdoel is, maar laasgenoemde span het met 34-27 gewen.

Gates het Superugby vir die Kings, en April vir die Sharks, gespeel.

♦ Die oud-Lion Lionel Cronjé (losskakel) het ʼn doelskop en ʼn strafdoel vir Jake White se Toyota Verblitz in sy nederlaag van 25-27 teen Suntory Sungoliath behaal.

♦ Nóg twee Suid-Afrikaners wat Saterdag drieë in die reeks gedruk het, was Coenie van Wyk (heelagter) vir Toshiba Brave Lupus (Canon Eagles wen met 26-20), en Gerrie Labuschagne (linkervleuel) vir Yamaha Jubilo (Jubilo klop Coca-Cola Red Sparks met 43-3).

Van Wyk het Superrugby vir die Lions en die Cheetahs gespeel, en Labuschagne Vodacombekerrugby vir die Vrystaatse en Goue Leeus-vyftiental.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.