Suid-Afrikaners kry 22 uit 27 vir Montpellier

Suid-Afrikaners het Saterdag 22 uit die 27 punte vir die gewese Springbokafrigter Jake White se span, Montpellier Hérault, in die Franse Top14-liga aangeteken.

Montpellier het naelskraap met 27-26 teen Stade Français gewen.

Die gewese Cheetahs-speler Willie du Plessis (losskakel) het 12 punte met drie doelskoppe en twee strafdoele aangeteken, voor ʼn geelkaart in die 76ste minuut ʼn einde aan sy wedstryd gemaak het.

Duhan van der Merwe (regtervleuel), ʼn gewese SA o.20-speler, en die Springbok Pierre Spies (agsteman) het twee van die wenspan se drie drieë gedruk.

Craig Burden (plaasvervanger-haker) het ʼn drie vir Stade Français gedruk, en die Springbok Morné Steyn (losskakel) het 11 punte met ʼn doelskop en drie strafdoele behaal.

Burden het Superrugby as haker vir die Sharks gespeel, nadat hy sy provinsiale loopbaan as ʼn driekwart begin het.

♦ Die Springbok Ricky Januarie (plaasvervanger-skrumskakel) het in die 76ste minuut ʼn drie vir La Rochelle gedruk, waarvan die doelskop sy span tot binne vier punte van Clermont Auvergne af gebring het.

Clermont het die wedstryd met 30-26 gewen.

♦ Paul Perez, die Samoaanse toetssenter wat vir die Sharks en die Kings gespeel het, het ʼn drie vir Toulouse in sy sege van 40-12 oor Bayonne gedruk.

♦ In die wedstryd tussen Racing 92 en Bordeaux-Bègles is Bernard le Roux, ʼn gewese Bolandse flank wat al in 26 toetse vir Frankryk gespeel het, met ʼn geelkaart gestraf.

Racing 92 het die kragmeting met 22-20 gewen.

Engelse Premierliga

♦ Die Springbok Wynand Olivier (senter) het ʼn drie vir Worcester in die Engelse Premierliga teen Leicester gedruk.

Laasgenoemde het met 28-23 gewen.

♦ Nog ʼn Bok, die agsteman Francois Louw, het ʼn geelkaart in sy span, Bath, se nederlaag van 24-27 teen Sale op die lyf geloop.

Europese Pro12-liga

♦ In die Europese Pro12-liga het Carl Meyer (heelagter), wat in Pietermaritzburg gebore is, 11 punte met ʼn drie en twee strafdoele vir die Walliese streekspan Newport Gwent Dragons teen sy eweknie die Cardiff Blues aangeteken.

Cardiff het met 26-24 gewen.

Engelse Kampioenskap

♦ In die Engelse Kampioenskap het die agsteman Ryan Smid Vrydag ʼn drie vir Ealing Trailfinders in sy oorwinning van 20-18 oor Yorkshire Carnegie gedruk.

Smid het Curriebekerrugby vir die Westelike Provinsie gespeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Peet ·

Sal nogal interesant wees om n naaamlys te sien van watter Suid Afrikaanse spelers ( gebore)ooral in die wereld speel.
Dink dit sal n baie lang lys wees..!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.