Suid-Afrikaners kry 39 in Japanse kragmeting

Suid-Afrikaners het in die jongste ronde saam 39 punte in ʼn kragmeting tussen Toyota Verblitz en NTT Docomo Red Hurricanes in die Japanse Topliga behaal.

Verblitz het die wedstryd met 46-18 gewen.

Op die koop toe word die wenspan deur ʼn gewese Springbok-afrigter, Jake White, en die Hurricanes deur ʼn gewese SA o.20-afrigter, Dawie Theron, gebrei.

Jason Jenkins, ʼn gewese Bulls- en Suid-Afrika A-slot, en die Springbok Gio Aplon (heelagter) het elk ʼn drie vir Verblitz gedruk, en Lionel Cronjé (losskakel) het 16 punte met vyf doelskoppe en twee strafdoele aangeteken.

Cronjé het voorheen SA o.20 en verskeie Superrugbyspanne verteenwoordig.

Die Bok Riaan Viljoen (heelagter) het met ʼn drie, ʼn doelskop en twee strafdoele 13 van die verloorspan se punte behaal.

Coenie van Wyk (heelagter), wat Superrugby vir die Lions en die Cheetahs gespeel het, het ʼn drie en twee doelskoppe (nege punte) tot Toshiba Fuchu Brave Lupus se sege van 39-22 oor Kubota Spears bygedra.

Shane Gates (plaasvervanger-binnesenter) het sy sesde drie in vyf opeenvolgende wedstryde vir NTT Shining Arcs teen Canon Eagles gedruk om ʼn oorwinning van 8-3 te verseker.

Gates wat Superrugby vir die Kings gespeel het, is nog ʼn Suid-Afrikaner wat sy oog op ʼn plek in die Japanse toetsspan het. Die slot Wimpie van der Walt het vanjaar die eerste een geword om dit te haal.

JC Roos (losskakel), ʼn gewese Curriebekerspeler van die Pumas, het die Eagles se punte met ʼn strafdoel aangeteken.

Nóg twee spelers uit Suid-Afrika het elk met ʼn doelskop geslaag: Francois Brummer (losskakel) vir Toyota Shokki Shuttle in sy nederlaag van 20-35 teen die Ricoh Black Rams 35; en André Esterhuizen (heelagter) vir Munakata Sanix Blues in sy nederlaag van 7-32 teen Panasonic Wildknights.

Brummer het vir Suid-Afrika A gespeel, en Esterhuizen is ʼn gewese SA o.20-speler wat Superrugby vir die Sharks gespeel het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jakkalas ·

Rerig gaan mens spelers wat in Japan speel ophemel? Ja goed presteer maar hulle word nie rerig ten volle getoets nie. Hulle raak so gewoon aan gemiddelde spel, teen hoë vergoeding dat hulle in daai groef of gemak sone beland. As jy aftree en in Japan jou laaste pensioengeldjies gaan verdien is die saak reg. Jong spelers sny hulle eie keel af om daar te gaan speel. Geen ontwikkeling neem plaas nie…..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.