Suid-Afrikaners laat Montpellier in die steek

Nadat ʼn sterk kern Suid-Afrikaners Montpellier tot boaan die punteleer van die Franse Top14-liga help dra het, kon hulle hom nie Saterdag help om sy eerste titel in die reeks te wen nie.

Die sesde geplaaste Castres is die nuwe kampioen nadat hy op verrassende wyse Montpellier met 29-13 in die eindstryd opgedreun het.

Die Springbokke Frans Steyn en Ruan Pienaar het elk ʼn strafdoel vir die verloorspan behaal, maar hulle word skerp gekritiseer vir hul origens swak skopwerk pale toe.

Op die koop toe het Castres se voorspelers die agttal van Montpellier, met Jannie du Plessis (vaskopstut), Bismarck du Plessis (haker), Paul Willemse en Nico Janse van Rensburg (slotte) in sy geledere, luidens berigte in die tweede helfte oorheers.

Die held van die wedstryd was die versmaaide Poema Benjamin Urdapiletta (losskakel) wat 19 van die wenspan se punte met vyf strafdoele en twee doelskoppe aangeteken het.

Hy en sy skakelmaat, Rory Kockott, word in die Franse media as die beste skakelpaar in vanjaar se Top14-reeks bestempel.

Kockott het Superrugby vir die Lions en die Sharks gespeel, en het Frankryk in 2014 en 2015 in 11 toetse verteenwoordig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.