Suid-Afrikaners maak amok in Emirate-rugby

Jaen Botes – driekuns. (Foto: Facebook)

ʼn Klompie Suid-Afrikaners is besig om amok in die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) se rugby te maak.

Dubai Exiles, wat deur ʼn gewese kaptein van Suid-Afrika A, Jacques Benadé, afgerig word, het onlangs sy eerste wedstryd vanjaar in die Wes-Asiatiese Premierliga teen Dubai Sports City Eagles met 85-8 gewen.

Drie spelers met Suid-Afrikaanse wortels het saam 48 van die Exiles se punte behaal.

Jaen Botes het drie, en Gio Fourie twee van die wenspan se twaalf drieë gedruk.

DuRandt Gerber het 23 punte met sewe doelskoppe en drie strafdoele behaal.

Botes het in 2004 op 15 na Abu Dhabi verhuis, en het vroeg-vroeg die land se o.19-span gehaal. Hy is sedert 2015 ʼn gereelde toetsspeler, en het ook draaie by die Cardiff Blues en Scarlets in Wallis gemaak.

DuRandt Gerber – 23 punte. (Foto: Twitter)

Gerber het Curriebekerrugby vir Griekwas gespeel, voordat hy Italië toe is, en dié land se A-span gehaal het. Hy was in die Italianers se oefengroep vir die 2011-Wêreldbekertoernooi, maar het nie die paal gehaal nie.

Die Exiles het hul volgende wedstryd teen Dubai Hurricanes (wat bande met die Nieu-Seelandse Superrugbyspan het) met 40-7 gewen.

♦ Vroeër, in die Wes-Asiatiese Kampioenskap, het ʼn Suid-Afrikaner, Garth van Niekerk, ʼn drie vir die uiteindelike kampioen, Abu Dhabi Harlequins, in sy sege van 36-32 oor Bahrein gedruk.

Van Niekerk het as lid van Pirates in Johannesburg die Goue Leeus se amateurspan verteenwoordig, wat die nasionale titel in 2012 gewen het. Hy het sewesrugby vir die Leeus gespeel.

Die klubkampioene van die VAR (Quins), die Arabiese Golf (Bahrein) en Sri Lanka (Kandy) het aan die reeks deelgeneem.

Die Suid-Afrikaner Johan Taylor het die afgelope tyd ʼn sterk rol in Kandy (en die Sri Lankaanse nasionale span) se opgang gespeel, en die SA A-flank Chris Cloete, wat pas die Pumas vir Munster verruil het, het in 2014 vir die klub gespeel.

Cloete het Kandy destyds gehelp om die nasionale liga te wen, en was die voorste driedrukker in die reeks.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.