Suid-Afrikaners sal steeds oorsee gaan speel

wereldrugby-logoDie Nieu-Seelandse en Australiese rugbyunies oorweeg dit nou om hul gewig by van die ander lidlande in te gooi deur die trekvoëls se vlerke te probeer knip, maar dit sal steeds nie die uittog van spelers keer om hul loopbane oorsee voort te sit nie.

Wêreldrugby moet in Mei besluit of hulle die verblyfkwalifikasies om vir ʼn ander land te speel, van drie tot vyf jaar sal verleng. Om dié voorstel deur te voer, sal 75% van die lidlande hulle steun daarvoor moet gee.

As die Kiwi’s en Aussies ook ja sê (Suid-Afrika sal na alle waarskynlikheid ook in hul voetspore volg) is dit byna seker dat die voorstel deurgevoer sal word, want Argentinië se nuwe rugbybaas, Agustin Pichot, het die bal aan die rol gesit.

Die Australiese rugbybaas, Bill Pulver, was aanvanklik daarteen gekant, want hy sê dat dit nie sin sal maak dat jy Australiese burgerskap na vier jaar kan bekom, maar steeds nie vir jou aangenome land mag speel nie.

Dit sal ook in die hande van rugbyliga speel.

Volgens die Sydney Morning Herald speel net twee van die sowat 90 spelers wat onlangs vir die Wallabies gespeel het, Henry Speight en Seiva Naivula, ná die verpligte verblyfkwalifikasie vir die Wallabies.

Sal dit Suid-Afrikaners keer om oorsee te gaan speel? Nee.

Daar speel meer as 350 Suid-Afrikaanse spelers wêreldwyd – en gaan doen maar ʼn opname, hulle het nie oorsee gegaan om dalk vir Skotland, Ierland, Engeland, Amerika, Frankryk en Italië in aanmerking te kom nie. Ja, dit is sekerlik ʼn bonus en ʼn lokaas, maar was dit ʼn loopbaanbesluit, oor geleenthede?

Dis nogal ironies dat Nieu-Seeland en Australië, wat naas Frankryk en van die vier Britse tuisunies die grootste aantal spelers van die Suidsee-eilande af wegrokkel, die voorstel steun. Hul toetsspanne wemel  van Fidjiane, Samoane en Tongane, asook ʼn hele paar Suid-Afrikaners.

Maar hoor ek enige van die Superspanne, die Franse Top14 en die rugbybase in Engelse Premierliga en Pro12 daaroor kla? Nee, want hul spanne wemel van Suid-Afrikaners, Fidjiane, Samoane en Tongane.

Dit sal hulle eintlik pas as die verblyfkwalifikasies langer gemaak word, want dan speel die spelers regdeur die jaar net vir hulle klubs en nie toetsrugby nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Frans C ·

Beroepsrugby is ‘n werklikheid. Net soos jy nie enigiemand kan verbied om sy beroep (werk)
uit te oefen waar hy die beste vergoeding en voordele ontvang nie,kan jy nie vir beroepsrugbyspelers voorskryf waar hul mag en nie mag speel nie.

Dit is ongelukkig sou dat geld nog steeds die beste motiveerder is. Vaderlandsliefde gaan jou nie in jou oudag onderhou nie want vandag se held is more ‘n vergete held.

Hannes ·

Geen rationele wit rugby speler sal in die land bly as hy die geleentheid kry nie. Hy moet met SA politiek, rasse deskriminasie en swak administrateurs werk. As jy monde het om te voer en kinders om n toekoms te gee – vat jou goed en gaan speel waar jy welkom is. Ek cheer vir daai boere maak nie saak in watter span hy speel nie.

Johannes van Staden ·

Ag ploeter maar voort mense stel nie meer belang nie …weet van baie !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.