Suid-Afrikaners skitter wyd in oorsese ligas

ʼn Springbok het 15 punte vir sy span in die Franse Top14-liga aangeteken; nóg een het twee drieë in die Engelse Premierliga gedruk; en Suid-Afrikaners het ál ʼn Skotse superklub se punte in die Pro14-liga aangeteken.

In Japan het drie Suid-Afrikaners vir ʼn Topliga-span agter die doellyn gaan kuier, en ʼn ander het byna al sy span se punte in ʼn oorwinning behaal.

♦ Morné Steyn het Sondag drie doelskoppe en drie strafdoele vir Stade Français in die senior Franse liga in punte omskep.

Stade het Toulon met 37-10 verslaan.

♦ Drie Suid-Afrikaanse slotte het Saterdag drieë gedruk in Lyon se verrassende wegholoorwinning van 55-13 oor Montpellier.

Hendrik Roodt en Etienne Oosthuizen (bank) het vir die wenspan gedruk, en Nico Janse van Rensburg vir die verloorspan.

ʼn Vierde, Paul Willemse (Montpellier), het ʼn geel kaart op die lyf geloop.

Roodt het die Opkomende Springbokke in Wêreldrugby se Nasiesbekertoernooi verteenwoordig; Oosthuizen het Superrugby vir die Sharks gespeel; en die ander twee het vir die Bulls in die Sanzaar-reeks uitgedraf.

Engelse Premierliga

♦ Nog ʼn Bok, Juan de Jongh (senter), het Sondag twee drieë vir Wasps in sy sege van 41-35 oor Leicester in die Engelse Premierliga gedruk.

♦ Vrydag het Gerbrandt Grobler (slot), wat Superrugby vir die Stormers gespeel het, ʼn drie vir Gloucester in sy sege van 35-13 oor Bristol gedruk.

♦ ʼn Gewese Bulls-kaptein, Jono Ross (flank), wat nou vir Bath speel, is Saterdag in sy span se wedstryd teen Harlequins met ʼn geel kaart gestraf.

Quins het met 35-18 gewen.

Pro14-liga

♦ Suid-Afrikaners het ál die Skotse superklub Edinburgh se punte in sy oorwinning van 17-10 in die Pro14-liga oor die Ierse provinsie Connacht aangeteken.

Pierre Schoeman (loskopstut) en Duhan van der Merwe (linkervleuel) het elk ʼn drie vir die wenspan gedruk, en Jaco van der Walt (losskakel) het albei verdoel en met ʼn strafdoel geslaag.

Schoeman het vir SA o.20 en die Bulls gespeel, Van der Merwe vir SA o.20 en vir die Blou Bulle in die opstelronde van die Curriebeker, en Van der Walt vir die SA Skolespan en vir die Lions.

♦ Die Bok Arno Botha (flank) het ʼn drie vir die Ierse provinsie Munster in sy sege van 49-13 oor die Walliese streekspan Ospreys (Swansea) gedruk.

♦ Johan Meyer (flank) en Francois Brummer (bankvleuel) het Saterdag elk ʼn drie vir die Italiaanse klub Zebre (Parma) teen die Walliese streekspan Cardiff Blues gedruk.

Zebre het met 26-24 gewen.

Meyer het Curriebekerrugby vir die Sharks gespeel; en Brummer, beter bekend as ʼn losskakel, het Suid-Afrika A verteenwoordig.

♦ Irné Herbst, ʼn slot van die Italiaanse klub Benetton Treviso, wat Pro14-rugby vir die Kings gespeel het, het ʼn rooi kaart op die lyf geloop in die 27ste minuut van sy span se nederlaag van 29-38 teen die Walliese streekspan Scarlets (Llanelli).

Japanse Topliga

♦ Drie spelers uit Suid-Afrika – Carl Wegner (slot), die Bok Gio Aplon (heelagter) en Lionel Cronjé (banklosskakel) – het Saterdag elk ʼn drie vir die gewese Bokafrigter Jake White se Toyota Verblitz teen Hino Red Dolphins gedruk.

Clinton Swart het drie doelskoppe bygevoeg, en Verblitz het met 36-14 geseëvier.

Wegner en Swart het Superrugby vir die Cheetahs gespeel, en Cronjé vir die Stormers en die Sharks.

♦ Gerhard van den Heever (heelagter), wat die Bulls en die Stormers verteenwoordig het, het 11 van Kubota Spears se punte in sy oorwinning van 14-3 oor Canon Eagles aangeteken.

Hy het ʼn drie gedruk en twee strafdoele bygevoeg.

Die Spears word deur die gewese Bulls-afrigter Frans Ludeke gebrei, en die Eagles deur die gewese Bokafrigter Allister Coetzee.

♦ Willie Britz (agsteman) het ʼn drie en Garth April (losskakel) ses doelskoppe bygedra tot NTT Shining Arcs se 64-26-sege oor Toyota Industries Shuttle.

Britz het Superrugby vir die Lions en die Cheetahs gespeel, en April het Suid-Afrika A verteenwoordig.

Die Bok Hugh Reece-Edwards is ʼn hulpafrigter van die wenspan.

♦ Yamaha Jubilo se wentelling van 34-16 teen Honda Heat het ʼn drie deur Gerrie Labuschagne (linkervleuel) en ʼn doelskop deur Niel Marais (losskakel) ingesluit.

Albei is oud-Vrystaters, met Marais wat Superrugby vir die Cheetahs gespeel het, en Labuschagne wat die Vrystaat-vyftiental in die opstelronde van die Curriebeker verteenwoordig het.

♦ Kotaro Matsoesjima (heelagter), ʼn Japanse toetsspeler wat in Pretoria gebore is, het ʼn drie vir Suntory Sungoliath in sy nederlaag van 20-36 teen Kobelco Steelers gedruk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Hennie ·

Aha, nou is ons nader aan die waarheid, sommer baie. Dankie vir hierdie inligting.

Hennie ·

Kom ons stel ‘n span uit die bostaande spelers saam en laat hulle teen die “Bokke” speel. Hehehehe …..

Paul ·

Maar die manne wat vol gesels elders is, is nêrens hier te bespeur nie. Min stel belang om die artikel te lees, waarom sou dit wees?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.