Suid-Afrikaners sorg vir enorme Euro-rugbyskok

Duitsland se leeutemmers. (Foto: DRV)

Duitsland se leeutemmers. (Foto: DRV)

Suid-Afrikaners het soos blink diamante geskitter toe Duitsland Saterdag vir die grootste skok in baie jare in die Europese Rugbykampioenskap gesorg het.

Duitsland (24ste op die wêreldranglys) het die haas ondenkbare vermag deur Roemenië, een van die gevestigde rugbykragte in Europa en ʼn gereelde deelnemer aan die reeks om die Rugbywêreldbeker, 41-38 in Offenbach te klop.

Skaars ʼn jaar gelede het Roemenië die vorige kragmeting tussen die twee spanne 61-7 oorheers, en Saterdag was hy rustyd 24-20 voor.

Dis die eerste keer in oor die 70 jaar dat Duisland die Eike klop.

Dit was ʼn Suid-Afrikaner wat die wendrie gedruk het; nog een het twee drieë gedruk; en ʼn derde het 16 punte behaal; en twee ander het die res van Duitsland se drieë gedruk.

Op die koop toe rig ʼn Suid-Afrikaner, Kobus Potgieter, die span af, met onder meer nog een, Pieter Jordaan, as hulpafrigter; die slot en kaptein, Michael Poppmeier, het Valsbaai vroeër op die veld gelei; en daar was ʼn sesde Suid-Afrikaner in die opdrafspan.

Marcel Coetzee (senter), ʼn gewese junior speler van die Sharks, het die wendrie kort voor die eindfluitjie gedruk; Jaco Otto (flank), ʼn gewese o.21-speler van die Sharks en wat reeds Duitsland se voorste driedrukker is, het nog twee by sy lysie gevoeg; en Raynor Parkinson (losskakel), wat op sy dag vir die Universiteit van Johannesburg gespeel het, het al vyf Duitsland se drieë verdoel en met ʼn straf- en ʼn skepdoel geslaag.

Die ander drieë is gedruk deur Jarrid Els (agsteman), wat vir Grens gespeel het, en nog ʼn man van Valsbaai af, die plaasvervanger-haker Dasch Barber.

Beseerde afgedra

Die ander Suid-Afrikaner in die wenspan was Sebastian Ferreira (flank), voorheen van die OP Kings.

Poppmeier is in die wedstryd beseer en van die veld gedra.

Roemenië het ook twee Suid-Afrikaners in die span gehad: Johan van Heerden, ʼn gewese slot van die Pumas en die Griffons; en Jody Rose, wat vir die Goue Leeus en die Opkomende Springbokke gespeel het, en ʼn broer van die Springbok Earl Rose is.

 In die ander wedstryde Saterdag in die Europese Rugbykampioenskap het Spanje eweneens verras met ʼn goeie sege van 16-6 oor Rusland; en Georgië het 31-6 met België afgereken.

Op ʼn laer vlak het Andorra ʼn drie in die laaste minute gedruk om Ciprus 15-14 in Afdeling 1 Suid te klop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

C Erasmus ·

Welgedaan aan hierdie seuns!Hierdie tendens(kyk maar na die top Europese klubs) gaan al hoe meer in die toekoms waargeneem word.Ongelukkig tot nadeel van bok rugby.

Deon ·

Pragtig. Uitstekende voorbeeld dat ons nie die politieke trurat in SA as ons enigste opsie hoef te sien nie. Daar is ‘n wye wêreld vol geleenthede daarbuite.

Doen so voort!

Skatymir ·

Dit lyk of die 1914 “Overeenkomst” tussen die Boere en die Duitsers wat op Keimoes geteken is al klaar in werking is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.