Suid-KZN in noppies met eie rugbyakademie

Rugbylui in die Suid-KwaZulu-Natalse Subunie (SKZNRSU) is in hul noppies met die totstandkoming van hul eie rugbyakademie as satellietinstelling van die welbekende Sharks-akademie.

Die suidelike akademie is op die Douglas Mitchell-sportterrein in Uvongo gevestig.

Dougie Haralambous, die SKNZRSU se voorsitter, sê 13 seuns is reeds by die akademie geregistreer en daar word beplan om aanstaande jaar nog 20 by te voeg.

Hy het ʼn oproep op belowende skolerugbyspelers, hul ouers en onderwysers gedoen om die akademie in gedagte te hou wanneer hulle oor hul (die seuns se) rugbyloopbane besin.

Andrew Binikos, die bestuurder en hoofafrigter van die akademie, is ʼn boorling van Port Shepstone, wat ses jaar lank in die Skotse Premierliga en internasionale rugby vir Ciprus gespeel het. Hy het vlak 1 en 2 afrigtingskwalifikasies van Wêreldrugby.

Sy regterhand, Christo Henderson, brei South Coast Warriors die afgelope vyf jaar in die KZN Premierliga, en het reeds die subuniespan en die Duikers se junior klubspan afgerig. In sy speeldae het hy die Pumas se o.21- en Presidentspan verteenwoordig.

Theuns Steenkamp, die akademiese koördineerder, is ʼn gewese kampushoof en het 33 jaar ervaring in opvoeding.
Belangstellendes kan http://www.thesharksacademyskzn.co.za/wmenu.php vir verdere inligting besoek, of met Binikos by [email protected] in verbinding tree.

♦ Haralambous sê die subunie se klubliga begin einde April en dieselfde agt klubs as verlede jaar – Kokstad, Matatiële, Kapaailand (Maclear), Harding, Ixopo, Scottburgh, Amangnesha en Gamalakhe – sal vanjaar in die liga speel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.