Suidsee-eilanders wil dat alles in die skoot val

Dit lyk darem alte veel of die Suidsee-eilanders verwag alles moet hulle in die skoot val, dié skielike hunkering van sommige spelers om die All Black-trui vir hul geboorteland s’n te verruil.

Uitgediende All Blacks soos Victor Vito, Sam Tuitopou, Charles Piutau en Frank Halai het aangedui dat hulle nou vir Tonga en Samoa wil speel nadat hulle reeds vir die All Blacks uitgedraf het.

Die 30-jarige Vito en die 26-jarige Piutau het in 2015 laas vir die All Blacks gespeel; die 29-jarige Halai het in 2013 in ʼn enkele toets gespeel; en die 35-jarige Tuitupou het in 2006 laas die All Black-trui oor die kop getrek.

Die “patriotisme” spruit uit die Nieu-Seelandse league-speler Jason Taumalolo se oorlopery na Tonga kort voor die afgelope toernooi om die league-wêreldbeker.

Van die Suidsee-eilanders wat vir die All Blacks gespeel het, maar sedertdien in onguns verval het, pleit nou dat hulle toegelaat moet word om na willekeur lojaliteit te verwissel om vir hul geboortelande te speel – noudat Wêreldrugby (WR) sy verblyfvereiste tot vyf jaar verhoog, juis om te probeer voorkom dat veral Nieu-Seeland die room van dié eilande se rugbytalent afskep.

Taumalolo se stap het luidens berigte blykbaar ook ʼn opstuwing van vaderlandsliefde by jonger spelers gehad.

Twee uithaler-skolespelers Siave Togoiu en Jeriah Mua het hul insluiting in ʼn Nieu-Selandse span vir die komende wêreldsewestoernooi vir skole in Auckland van die hand gewys ten gunste van insluiting in ʼn Samoaanse span.

Sommetjies

WR se verskerpte verblyfvereiste spruit grootliks uit die toenemende getal Suidsee-eilanders wat in die jongste tyd Nieu-Seeland toe gelok is en wat onder meer deur die All Blacks ingespan is.

Toe kommer aanvanklik hieroor uitgespreek is, het The New Zealand Herald in Junie 2014 sommetjies gemaak oor die omvang van die probleem.

Ewe gerieflik het hy die net tot aan die begin van die All Black-geskiedenis gespan, en bevind dat net 32 van die 1 133 spelers (minder as 3%) op Fidji, Samoa, Amerikaans-Samoa of Tonga gebore is, en dat slegs vyf – Mils Muliaina (Samoa, 100 toetse), Joe Rokocoko (Fidji, 68), Rodney So’oialo (Samoa, 62), Olo Brown (Samoa, 56) en Jerome Kaino (Amerikaans-Samoa, destyds 50) – in 50 of meer toetse gespeel het.

Die prentjie lyk ietwat anders as ʼn mens bloot na die groep vir die afgelope Novembertoer oplet.

Ses van die 37 spelers is op die eilande in die Stille Suidsee gebore: Kaino (wat nou reeds in 81 toetse gespeel het), Nepo Laulala (Samoa, 13), Ofa Tu’ungafasi (Tonga, 14), Vaea Fifita (Tonga, vyf), Waiseke Naholo (Fidji, 18) en Seta Tamanivalu (Fidji, drie).

Dis 16,2%.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nico K ·

Die streng reel wat spelers verhoed om van land te verwissel is ingestel om lande soos Tonga en Samoa te beskerm. Maar dit het die teenoorgestelde tot gevolg gehad. Die lande word nou meer deur die reel benadeel want jong spelers stel nie belang om vir die lande te speel as hulle enigsins hoop om dalk vir NZ of ander lande te kan speel nie. Onthou meeste van hulle speel reeds hul provinsiale/klub rugby in ander lande. Dieselfe het gebeur in SA. Ons het gesê dat geen buitelandse speler vir die springbokke gekies sal word nie en die getal jong spelers wat SA verlaat word net meer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.