Sukkelende Italië voorbeeld vir Bulls

`n Leë loftus

`n Leë loftus

Italië kry dit reg al wen hy amper nooit nie, maar die Bulls sukkel om hul mense op Loftus te kry.

Italië het nie hierdie probleem nie. Miskien hou die Italiane van `n verloorspan, of dalk hou hulle net van rugby – wen of verloor. Hoe anders verklaar `n mens dat 82 061 toeskouers Saterdag op Twickenham met sy kapasiteit van 82 000 opgedaag het om die Sesnasies se houtlepelspan te sien?

Goed, lesers mag redeneer dat die hele lotjie op Moddereiland dol is oor rugby – waar elders kry jy daardie atmosfeer en sang? – maar die Italiane trek ook in sokkermal land groot skares rugby toe.

Die Stadio Olimpico huisves 73 261 en teen Skotland het die Azzurri verlede jaar 66 000 gelok. Teen Engeland was dit toe 71 000. En dis `n span wat 15 van sy laaste 17 wedstryde verloor het en in tien van sy 15 deelnames aan die Sesnasies heel laaste geëindig het! En moenie dink hulle is, soos by baie van ons plaaslike saamtrekke, met gratis hoender en T-hemde gelok nie.

Op sy beurt was Loftus verlede jaar in die nuus dat hy sy laagste bywoning in 13 jaar gehad het: Vir die Super15 gemiddeld 16 000 in `n stadion wat amper 52 000 kan huisves.

‘Ons het die reg om hier te wees’

Sergio Parisse (kaptein) het sy span Saterdag met passie verdedig:

“As almal gedink het Italië is sommer net `n ou klein spannetjie, sou daar nie 82 000 op Twickenham gesit het nie. Ons het al in vorige jare bewys ons het `n reg om hier te wees. Natuurlik wil ons beter doen, maar ons moet ook realisties wees. Ons het teen `n groot span slae gekry.

“Dis moeilik om positief te wees as jy met 40+ verloor, maar ons het drie drieë teen `n baie goeie span gedruk. Nie maklik of per ongeluk nie, ons het hulle gebou. Maar ons verdediging het ons in die steek gelaat.”

Italië het die Springbokke en die Poemas verlede jaar laat sweet vir hul seges en Samoa geklop.

Bulls se hoop verflou

Van die Bulls se groot voorseisoense hoop het daar Saterdag teen die groentjies van die Kaap dadels gekom. Die Bulls se span het deurgaans gesukkel, veral in die skrums. Hul Springbokbelaaide agterlyn het ook tweede beste daarvan afgekom.

Dis nog vroeg in die seisoen en spanne het maar af dae, maar die mense wat so op Frans Ludeke gal braak, moet dalk `n slag vra wat Slaptjips Rossouw nou al met hul agterlyn reggekry het.

En as selfs die gerespekteerde Balie Swart hulle nie kan leer skrum nie – dis al jare lank hul probleem – wag daar dalk nóg swaar dae en nóg minder toeskouers.

Miskien werk die KFC en T-hemde ook vir die Pretorianers, maar vir die beswil van Suid-Afrikaanse rugby moet die mense wat die draaihekke laat draai voel hulle kry waarde vir hul geld. Van `n wenspan.

Die Bulls speel Vrydagaand 19:10 op Loftus teen die Hurricanes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.