Sukkelende Springbokke knou selfs klubrugby

Die Springbokke se gesukkel het ook ʼn negatiewe uitwerking op klubrugby wat as amateurs in die beroepsera al hoe moeiliker oorleef.

Ryan Dennis, die voorsitter van Germiston Simmer, sê dié klub verdien gewoonlik sy grootse inkomste uit die verkoop van ʼn gasvryheidspakket gekoppel aan die Sprinkbokke se Junietoets op Ellispark.

ʼn Hele paar jaar lank was dié toets teen die All Blacks, en die verdienste daaruit was genoeg om die klub se uitgawes vir die volgende seisoen te dek.

“Die peil van die Springbokke en die verlies van die All Blacks-toets het veroorsaak dat die jongste insamelingspoging bloot die koste van die pakket gedek het,” sê Dennis.

Hy sê die bedryf van ʼn rugbyklub is deesdae ʼn ingewikkelde saak, en Simmer se bevordering tot die Pirates-grootuitdaagbeker (PGU) het nuwe uitdagings gebring.

“Dit gaan nie bloot om die 15 spelers en die reserwes op die veld te kry nie, maar ook om borge vir toerusting, speeluitrusting en spelersuitgawes te bekom. Die afrigting en gemeenskapsinsette verg ook aandag. Al dié sake fokus op die spelers.”

Dennis sê die klub verwelkom die opskuiwing na die PGU, maar dit bring onder meer mee dat Simmer vanjaar vyf spanne in die veld moet stoot, pleks van die drie wat die Senior Grootuitdaagreeks (SGU) geverg het.

Simmer het die SGU verlede jaar gewen, en die Goue Leeus-rugbyunie (GLRU) se reeks is vanjaar herskik om vir twee groepe in die PGU te voorsien. Simmer is saam met drie van verlede jaar se PGU-klubs en drie gewese SGU-klubs in Groep 2 ingedeel.
Dennis sê hoewel knap geldbestuur verseker het dat die klub die seisoen met ʼn gesonde neseier kon afskop, is daar nie genoeg geld om spelers met wedstrydtoelaes te lok nie.

“Dit is die essensie van die stryd om talent. Die spelers gaan waar die geld is. Dit het nie net ʼn uitwerking op die eerste span se 22-tal vir wedstryddae nie, maar ook op die diepte van talent by die klub.”

Hy is vol lof vir die groot aantal spelers wat hulle in weerwil van die afwesigheid van wedstrydtoelaes tot Simmer verbind het, nie net uit lojaliteit teenoor die klub nie, maar ook vanwee dië onderlinge kameraadskap wat spelers deur die jare opgebou het.

“Nie net die eerste span se 22-tal nie, maar 110 spelers het hulle verbind om die Simmer-vaandel te laat wapper … ʼn interessante sameloop van omstandighede, dié 110 spelers in die klub se 110de bestaansjaar.”

Dennis sê daar is wel spelers wat groener weivelde gaan soek het, maar daar is ook diegene wat geldaanbiedings van die hand gewys het om by Simmer te bly.

Die klub het ook ʼn sterk afrigtingspan onder Maree Bester, ʼn gewese Blitsbokkeurder, sê Dennis, “en dit sal interessant wees om te kyk hoe volhoubaar die formule van toegewyde spelers en afrigters in die PGU blyk te wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.