Een van die suksesvolste afrigters wat die Lions en die Goue Leeus die afgelope klompie jare gehad het, groet die franchise en die bond.
Die Lions-maatskappy het Maandag in ʼn verklaring bevestig dat Johan Ackermann die Lions ná afloop van die huidige Superrugbyseisoen verlaat.
Terselfdertyd het die Engelse Premierligaklub Gloucester op sy webwerf bekend gemaak dat Ackermann as sy hoofafrigter aangestel is.
Ackermann dui in sy bedankingsbrief aan dat hy ʼn kruispad in sy loopbaan bereik het, en glo sy reis moet ʼn nuwe koers inslaan as hy as afrigter wil groei.
Luidens die Lions-verklaring was die afrigter “nooit anders as uitmuntend nie” in sy dienstyd by die Lions, en het hy ʼn sleutelrol in die span se heropstanding vervul.
Rudolf Straeuli, die hoof- uitvoerende beampte van die Lions, sê in die verklaring hy eer en respekteer Ackermann se besluit en wens hom die beste toe.
“Ek hoop hy groei in die nuwe hoofstuk van sy loopbaan, en keer as ʼn selfs beter afrigter na Suid-Afrika terug.
“Ackers is ʼn waardevolle bate vir die Lions, ons gemeenskap en ons kultuur, en boweal vir Suid-Afrikaanse rugby.
“Hy sal gemis word, maar ons het ervare afrigters in ons strukture wat kontinuïteit sal verseker.”
Kontinuïteit
Ackermann is in 2013 as die Lions se hoofafrigter aangestel, nadat hy sedert 2010 as hulpafrigter by die Superrugbyspan betrokke was. Hy was die afgelope drie jaar Suid-Afrika se afrigter van die jaar, en het die Suid-Afrikaanse A-span verlede jaar gebrei.
Hy het sewe uit 16 wedstryde in sy eerste jaar as afrigter gewen – die meeste wat hulle sedert 2000 kon regkry. In 2015 het hulle nege uit 16 gewen, die meeste sedert die instelling van Superrugby. Verlede jaar het die Lions die eindstryd van die reeks gehaal, maar het teen die Hurricanes in Wellington verloor.
As speler het hy die Springbokke in 13 toetse verteenwoordig, en in oor die 180 eersterangse wedstryde gespeel.
Sterkte en geniet die uitdaging Johan.
PS. Vat Nollis saam, dalk kan hy iets leer.