Sunwolves sprankel; Bulls nog ver van gereed vir die grotes

Jan Serfontein is by om sy kaptein Handré Pollard te ondersteun wat ʼn bres probeer slaan. (Foto: GB Jordaan)

Jan Serfontein is by om sy kaptein Handré Pollard te ondersteun wat ʼn bres probeer slaan. (Foto: GB Jordaan)

Nou wat sal ʼn mens hieroor sê? Beslis dat die Sunwolves nie blote kanonvoer is nie en veel meer mededingend is as verlede jaar, en dat die Bulls nog ver van hulle aanvaarde standaard is. Ook dat Jan Serfontein kookwater is.

Die Bulls, op 39 sekondes na die hele tweede helfte met net 14 man nadat Renaldo Bothma vir ʼn hoogvat met ʼn swaaiende arm ʼn rooikaart gekry het, het 34-21 op Loftus gewen. Hulle was soms goed, soms gemiddeld en dikwels maar vrotterig.

Die Bulls se skrums het nog steeds nie in die eerste helfte oortuig nie, maar was, selfs na die afjaag van Bothma, meer mededingend met sewe voorspelers toe Jacobie Adriaanse, Lizo Gqoboca en Adriaan Strauss voorgevat het.

Agterlangs het die Japanners nie net vir die Bulls gewys hoe gehanteer en ondersteun moet word nie, maar vir sommer al die Suid-Afrikaanse spanne ʼn les geleer. Die Wolves het alte maklik ruimte en gapings gevind met rigtingverandering en samespel.

Die Bulls het, veral aan die begin, wel wyd probeer speel, maar hanteringsfoute en ʼn oënskynlike onsekerheid oor wat die speler langs hulle gaan doen, oftewel samespel, het geleenthede verlore laat gaan.

Te min is van die Bulls se agterste driehoek gesien. Hier wys Travis Ismaiel wat in die opsig kon gewees het. (Foto GB Jordaan)

Te min is van die Bulls se agterste driehoek gesien. Hier wys Travis Ismaiel wat in die opsig kon gewees het. (Foto GB Jordaan)

Die agterste driehoek van Travis Ismaiel, Jamba Ulengo en Warrick Gelant het hier en daar getoon wat van hulle verwag kan word, maar daar was te min daarvan.

Die Bulls se verdediging bly ʼn probleem en gaan hulle vorentoe nog duur te staan kom. Die Wolves het alte maklik ruimte en gapings gevind – en oorsee sal dieselfde geld wanneer die Bulls oor die volgende twee naweke teen die Blues, die Chiefs en dan weer die Sunwolves in Tokio speel.

En Handré Pollard? Stukke beter, maar nog nie heeltemal daar nie. Hy het twee strafdoelpogings misgeskop, maar die ander was so suiwer as wat ʼn mens maar kan verwag. Die oefening begin vrugte afwerp.

Hy het ook fisies die verdediging aangevat en een mooi aflaai gegee wat deur ʼn hanteerfout verlore gegaan het.

Jan Serfontein het na sy terugkeer van ʼn besering verlede Junie met die eerste uitgee na hom onder die pale oorgegaan; ʼn paar goeie uitgeë aan sy spanmaats gegee en ʼn pragtige tweede drie gedruk. Sy samespel met Burger Odendaal lyk egter na ʼn probleem.

Nog ʼn opmerklike tekortkoming, veral teen ʼn ligter span soos die Sunwolves, was die onvermoë om oor die voordeellyn van die losskrums af te dryf.

Ja, Bulls wou meer hardloop, maar dis tog seker makliker teen ʼn span wat op die agtervoet is?

Aansienlik minder besit en minder gebiedsvoordeel en swakker gebruik van hul besit sal reggestel moet word. Plus, as ʼn mens dit weer kan noem, hulle swak verdediging waar sowat 25 têkkels verbrou is.

Puntemakers –

Bulls (17) 34: Drieë: Jan Serfontein 2, Pierre Schoeman, Jason Jenkins.  Doelskoppe: Handré Pollard 3, Tian Schoeman. Strafdoele: Pollard, Schoeman.
Sunwolves (14) 21: Drieë: Kenki Fukuoka, Edward Quirk. Doelskoppe: Jumpei Ogura Strafdoele:  Hayden Cripps 3

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Janee ·

Bulle het groot probleme. Afrigting nie op standaard nie! Spelers nie gemotiveerd nie! Speel nie meer vir die blou trui nie!

Jaybee ·

Daar is groot probleme in die Bulls kamp. Verdediging was baie swak so ook die hantering. Hulle lyk beslis nie soos ‘n afgerigte span nie. Le die fout by die afrigting of by die spelers? Hulle gaan beslis sukkel oorsee.

Veritas ·

Gee bietjie kans. Hou in gedagte dat die span sover teen twee goeie spanne verloor het en beide was wegwedstryde. Ek is oortuig daarvan dat hulle nog met ‘n paar verrassings te voorskyn gaan kom.

Piet Pille ·

Stem saam met beide Janee en Jaybee, maar ek dink die groot probleem le by die afrigting. Swak motivering en min of geen selfvertroue by spelers. Waar is die Blou Bulle van wel eer

Manie ·

Dit is vir die rede dat ek nie meer my geld mors om Loftus toe te gaan. Ek dink die afrigter is pateties. Handré speel uiterse swak rugby na sy besering.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.