Sunwolves teer op Cheetahs se foute

cheetahs-grootDie Cheetahs is moontlik ontsenu toe die Sunwolves na net 26 sekondes gaan druk het, en hulle het wel ʼn groot klomp beserings gehad, maar die Sunwolves is uiteindelik die span wat Saterdagaand kop omhoog van die Vrystaatstadion gestap het.

Vier drieë elk is in die wedstryd gedruk, en die Cheetahs het in die wipplankwedstryd eers na 66 minute die eerste keer ʼn voortou gekry waaraan hulle daarna vir 15 minute geklou het. Hulle het uiteindelik met 38-31 gewen.

Die rustydtelling was 20-17 in die Cheetahs se guns.

Saterdag se wentelling vergelyk sommer baie sleg met die Cheetahs se oorwinning met 92-17 verlede jaar teen die Sunwolves en ook met die pak van 83-17 wat die Hurricanes hulle twee weke gelede toegedien het.

Daar was weinig ritme, heelwat verkeerde opsies en onsekerheid aan die kant van die Cheetahs wat dalk aan die ontwrigting deur hulle beserings toegeskryf kan word. Vergeleke by die Stormers, wat Saterdag teen die Kings ook sonder ʼn hele spul voorste spelers klaargekom het, het dit wat ʼn mens vermoed weer by jou opgekom: die Vrystaters se diepte is nie waffers nie.

Individueel was van die Cheetahs eerstekeuse spelers, met Oupa Mohoje aan die voorpunt met sy ondersteuning, goed. Raymond Rhule was weer op die regtervleuel uitstekend, Torsten van Jaarsveld was oral en het hard gewerk en in Justin Basson het die Cheetahs ʼn uitstekende nuwe slot wat in die afwesigheid van die beseerde Reniel Hugo baie goed as slotmaat van Francois Uys sal vaar.

Die Sunwolves is in die skrums verneder, het hulle man net-net in die lynstane gestaan maar het met hulle aanvallende benadering en goeie ondersteuning indruk gemaak.

Hulle agsteman Willie Britz, wat teen sy ou span gespeel het nadat hy vroeër ook die Lions verteenwoordig het, was saam met die slot Liaki Moli die harde werkers wat besit vir die Japanners verseker het en aanvalle geloods en ondersteun het.

Die Sunwolves se heelagter Liaki Emi was moontlik die beste speler op die veld met uitstekende voorgevoel, vaart en deurdringingsvermoë terwyl die vleuel Kenki Fukuoka self ʼn gevaarlike agterspeler is waarvan soos sy twee drieë getuig.

Omkeerbesit was die besoekers se lewensaar, wat aangehelp is deur die baie hanteerfoute en verdedigingsblapse van die Cheetahs.

Puntemakers – 

Cheetahs (20) 38: Drieë: Torsten van Jaarsveld, Oupa Mohoje, Clinton Swart, Ryno Benjamin Doelskoppe: Fred Zeilinga 3 Strafdoele: Zeilinga 3
Sunwolves (17) 31: Drieë: Shota Emi, Hayden Cripps, Kenki Fukuoka 2 Doelskoppe: Cripps 2, Jamie-Jerry Taulagi 2 Strafdoel: Cripps.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

N Lourens Reitz ·

Ek verstaan nie. Die berig lees “na 66 minute neem Cheetahs vir die eerste keer die voortou in die wedstryd” maar die rus tyd telling 20-17 in Cheetahs se guns ??

Wim van der Berg ·

Die berig meld dat dit `n wipplankryery was . Die Cheetahs was dus dan voor, dan agter (“die Cheetahs het in die wipplankwedstryd….)
Daar word ook nie gese die Cheetahs het na 66 minute die eerste keer DIE voortou gekry nie, maar wel ” ʼn voortou gekry WAARAAN HULLE VIR 15 MINUTE GEKLOU HET.” Hulle het dus `n voorsprong gekry en dit behou

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.