Super 12 beloof spannende halfeindstryde

ooskaapwapenDie Oos-Kaapse Super12-reeks beloof twee spannende kragmetings wanneer die halfeindronde Saterdag op Uitenhage en New Brighton beslis word.

Daar is vir elk van die vier spanne veel meer as ‘n blote reeksoorwinning op die spel.

Op die Sentrale Veld in Uitenhage pak twee plaaslike spanne, Progress en Gardens, mekaar in ‘n derbystryd; en op die New Brighton-ovaal meet die tuisspan, Spring Rose, kragte teen Oos-Londen Polisie, die enigste span van Grens wat die rondomtaliefase oorleef het.

‘n Derby het ‘n manier om die beste uit die deelnemers te haal, en is die soort wedstryd waar dit beter is om nie voorspellings te waag nie.

Gardens is die verdedigende kampioen en hou ook die Oostelike Provinsie se Grootuitdaagbeker, maar het onverwags in die eerste ronde van vanjaar se reeks slae gekry, en tweede in Groep A gekom.

Progress het op sy beurt die reeks onoorwonne en boaan Groep B afgesluit.

Dit verg dus geensins ‘n kennis van kernfisika nie om te weet dié twee spanne gaan mekaar Saterdag heup en skenkel slaan.

Oos-Londen Polisie is Grens se klubkampioen, en die enigste van die vier spanne wat vanjaar aan die oop klubs se reeks om die Goue Beker deelgeneem het. Hy het nes Gardens sy rieme in die eerste ronde styfgeloop, wat hom die tweede plek in Groep B besorg het.

Progress is die ander onoorwonne span in die reeks, en sy plek boaan Groep A besorg aan hom die tuisveldvoordeel.

Ook in dié geval is die tafel dus vir ‘n genadelose stryd gedek.

Albei wedstryde se afskoptyd is vir 15:30 bepaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.