Super 12 gaan voort ná hofbevel, twee uitstelle

ooskaapwapenDie halfeindronde van die Oos-Kaapse Super 12-reeks gaan Saterdag uiteindelik voort nadat dit twee keer uitgestel is, onder meer vanweë `n hofbevel.

Die kwessie spruit uit die beweerde onreëlmatige gebruik van `n speler deur Spring Rose van New Brighton in die rondomtaliefase.

Ná beraadslagings tussen die Oos-Kaapse Departement van Sport, Ontspanning en Kultuur (wat die reeks borg), die provinsiale sportkommissie onder wie se beskerming dit plaasvind, en die reeks se bestuurskomitee is nou beslis dat die klub geregtig is om die bepaalde speler te gebruik.

Die uiteinde is dat Gardens van Uitenhage sy titel kan verdedig nadat die vorige beslissing hom `n plek in die halfeindstryd ontsê het.

Hy speel nou Saterdag 15:30 op die Sentrale Sportveld op Uitenhage soos aanvanklik bepaal is teen die ander Uitenhaagse span in die reeks, Progress.

In die ander wedstryd speel Spring Rose 15:30 op die New Brighton-ovaal teen Oos-Londen Polisie, Grens se kampioen.
Aanvanklik is gesê die onderskeie bonde, Oostelike Provinsie en Grens, se registrasiereëls geld vir die reeks, en daarkragtens is die bepaalde speler se gebruik onwettig omdat sy registrasie vir Spring Rose nie uitgeklaar is nie.

Vier ligapunte is gevolglik by Rose weggeneem en aan Park van Port Elizabeth gegee, sodat laasgenoemde bo Gardens geëindig het.

Luidens die jongste communiqué deur die organiseerders is dit `n voorseisoense reeks en geld die twee bonde se ligareëls nie daarvoor nie.

Kragtens die Super 12-reëls moes elke klub vooraf die name van 30 spelers indien, en die bepaalde speler se naam is behoorlik deur Spring Rose gelys. Daar bestaan dus geen twyfel nie dat hy vir die duur van die Super 12-reeks `n lid van die New Brightonse klub is, en dié geen reël oortree het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.