Super 12-liga: Die berg baar toe ʼn muis

Die berg het toe eintlik maar ʼn muis gebaar met die oorspeel van die Oos-Kaapse Super 12-reeks se halfeindstryd Donderdag.

Gardens het nog ʼn klipharde stryd op die Sentrale Sportveld op Uitenhage met 7-3 gewen, en sal steeds teen Oos-Londen Polisie in die eindstryd te staan kom. Hy het die nietig verklaarde halfeindstryd met 21-20 gewen.

Al verskil is dat die toeskouers ʼn bonuswedstryd gesien het, en die twee spanne ʼn klompie ekstra hekgeld geïn het. ʼn Mens wonder selfs of laasgenoemde genoeg sal wees om die partye se regskoste te dra nadat die geskil ʼn draai in die hof gemaak het.

Nietemin, die sage is hopelik nou agter die rug en kan daar voorlopig weer op rugby gekonsentreer word.

Dis nie bekend wanneer die eindstryd plaasvind, en hoe verwikkelinge die rondomtaliewedstryd tussen Progress en Gardens in die reeks om die Oostelike Provinsie se Grootuitdaagbeker raak nie. Dié wedstryd is vir Saterdag in die Derrick Ferreirastadion op Uitenhage bepaal.

Grootuitdaagbeker

Saterdag se ander Grootuitdaagwedstryde in Groep A is Trying Stars teen Windvogel (Alexandria), Crusaders teen Star of Hope (St Georgespark), en Suburban teen Despatch (Kleinskool).

In Groep B speel Sentraal teen die Nelson Mandela- Metropolitaanse Universiteit (NMMU) op Koeberg, Kruisfontein teen United Barbarians (Humansdorp-sportterrein), Spring Rose teen Harlequins (New Brighton-ovaal), en Park teen African Bombers (Londtpark).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.