Super 12: naelskraap vir onoorwonne status

ooskaapwapenDie twee onoorwonne spanne in die Oos-Kaapse Super 12-liga het Saterdag in albei gevalle hul status in wegwedstryde met `n enkele punt behou.

Progress van Uitenhage het Port Elizabeth Harlequins 22-21 geklop; en Spring Rose van New Brighton het 19-18 teen Swallows van Mdantsane gewen.

Quins het met sy vertoning bewys verlede seisoen se sterk lopie was g’n gelukskoot nie, en dat daar vanjaar weer met hom rekening gehou sal moet word.

Progress het tot dusver drie wedstryde gespeel, en Spring Rose een minder.

Eersgenoemde het met die sege sy plek boaan Groep B in `n mate gekonsolideer, maar nog nie Oos-Londen Polisie heeltemal afgeskud nie.

Bobbies het Despatch 26-10 op Polisiepark in Oos-Londen geklop.

Gardens van Uitenhage en Park van Port Elizabeth is nog in `n kwaai tweestryd om die eerste plek in Groep A gewikkel.

Op Rosedale het die Uitenhaagse span, wat sowel die heersende Oos-Kaapse as Oostelike Provinsie-kampioen is, Cambridge 46-7 afgeransel; en Park het in die Mlungisistadion in Komani `n goeie oorwinning van 33-24 oor Breakers van Queenstown behaal.

Buffaloes van Oos-Londen se oorwinning van 10-7 op Buffalopark oor die Walter Sisulu-universiteit (Potsdam) sal hom `n trappie op die punteleer laat klim.

Op die oog af lyk dit of die belofte wat die Grens-klubs aan die begin van die reeks getoon het nie verwesenlik word nie, en dat die OP-klubs maar weer die uitspeelrondes sal oorheers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.