Super Cooper (en Hooper) weer teen Bokke

Michael Hooper. Foto: Wallabies Twitter. 

Quade Cooper sal weer die nommertientrui in Saterdag se tweede toets teen die Springbokke in Brisbane dra, terwyl Michael Hooper sy 112de toets vir die Wallabies sal speel.

Die 29-jarige flank sal terselfdertyd George Gregan se rekord vir die meeste toetse as die kaptein van die Aussies verbeter; dit sal sy 60ste wedstryd as kaptein wees.

Hooper het sy kapteinskapbuiging as ’n 22-jarige in 2014 gemaak en hy is die derde jongste Wallabies-kaptein ooit.

Dan sal die man met een van die lekkerste snorre in wêreldrugby, Nic White, Cooper se skakelmaat vir die komende wedstryd wees.

“Dit is ’n ongelooflike mylpaal vir Michael en dit is ’n getuigskrif wat sy waarde as speler en mens onderstreep. Ek is baie beïndruk met sy leierskap op en van die veld,” het Dave Rennie (afrigter) gesê.

Volgens Rennie verwag hy dat die Springbokke beter sal vertoon nadat hulle verlede week in die doodsnikke van die wedstryd verloor het.

“Ons baie trots op die Wallabies se vertoning, maar terselfdertyd is ons ook versigtig vir ’n gewonde Springbok.”

Quade Cooper. Foto: Michael Bradley/AFP.

Die Aussies is onoorwonne in die laaste agt toetse in Brisbane, maar Chris Latham (voormalige Wallabies-heelagter) meen ook dat ’n beter Springbok-vertoning op die spyskaart is.

“Ek dink nie die Bokke gaan veel aan hul wedstrydbenadering karring nie, maar hulle sal beslis dinge beter op die veld uitvoer. Hulle moet kwaad wees ná die nederlaag en hierdie gaan ongetwyfeld ’n taai wedstryd wees,” het Latham gesê.

Die wedstryd begin Saterdag om 09:05 en sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Wallabies: Tom Banks (heelagter), Andrew Kellaway (regtervleuel), Len Ikitau (buitesenter), Samu Kerevi (binnesenter), Marika Koroibete (linkervleuel), Quade Cooper (losskakel), Nic White (skrumskakel), Rob Valetini (agtsteman), Michael Hooper (kaptein en flank), Lachlan Swinton (flank), Matt Philip (slot), Izack Rodda (slot), Taniela Tupou (stut), Folau Fainga’a (haker) en James Slipper (stut). Plaasvervangers: Feleti Kaitu’u, Angus Bell, Tom Robertson, Darcy Swain, Pete Samu, Tate McDermott, Reece Hodge en Jordan Petaia.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

piet ·

Hierdie gewonde Springbok ken egter net van SKOP, jy hoef nie te vrees dat hy oor jou gaan HARDLOOP nie.

Pierre ·

Cooper het nie die wedstryd gewen nie, Pollard het dit verloor.

annie ·

… vertel asseblief net vir ons hoekom Australië groen en goud dra, dieselfde as die Bokke, as hul landsvlag se kleure rooi, wit en blou is?

jou gewete ·

die blomme behoort nie meer Groen en Goud te dra, dit hoort by n trotse Springbokspan wat op meriete gekies is, nie n regering blomme sapn nie. ek stel voor die blomme kry vir hulle ander kleure dat die Springbok vrede kan he

jou gewete ·

Kom ons hoop Australie kry dit weer reg om te wen, sal sooo lekker wees. Hulle word mos gebrandmerk as kriminele maar die werklike kriminele is huidige suid afrika, die mekka van rowers en alle soorte skelms

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.