Super-Crusaders verskuif weer die doelpale

Foto: CrusadersRugby/Twitter

Daar is min dinge wat ʼn Saterdagoggend so opbeur soos wanneer die Crusaders rugby speel. Dit is nie net blote heldevereniging nie, want oud-Springbokke soos John Smit en Gcobani Bobo, wat in die SuperSport-ateljee was, stem met jou saam.

Dís mos hoe rugby gespeel moet word, dís mos hoe drieë gedruk word, dís mos die maatstawwe waaraan die ander spanne hulself moet meet…

Hulle voer die basiese beginsel reg uit, hul hantering en ondersteuning is uit die boonste rakke en hulle plaas meestal ʼn spanmaat in ʼn beter posisie, of so lyk dit altans.

Dis hoekom dit weer pure plesier was om te sien hoe die Crusaders die Brumbies Saterdagoggend in Christchurch met 36-14 in hul Superrugbywedstryd geklop het.

Die Brumbies het in die eerste helfte bygehou, hulle het die Crusaders onder druk geplaas en ontwrig, maar dit was net ʼn kwessie van tyd voordat die damwal gebreek het. Spelbrekers soos Richie Mo’unga en Ryan Crotty het al hoe meer na vore getree en voorlangs het Scott Barrett, Sam Whitelock en Kieran Read die leisels al stewiger vasgevat. Boonop het die Brumbies se dissipline gelol en twee geelkaarte aan Toni Pulu en Sam Carter het beslis nie gehelp nie.

Die Crusaders is weer besig om te oorheers en loop met 29 ligapunte voor in die Nieu-Seelandse afdeling. Dis ʼn uitgemaakte saak dat hulle weer in die uitspeelrondes betrokke sal wees en behoede die span wat na Christchurch sal moet reis.

Blues en Waratahs

In Auckland is die Blues besig om die kaarte deurmekaar te krap nadat hulle die Waratahs met 32-19 geklop het.

Die Blues het nou vier wedstryde op ʼn streep gewen (die eerste keer sedert 2011) en met 19 ligapunte reeds in die sakkie, tree hulle al hoe sterker na vore om saam met die Crusaders en Hurricanes die Nieu-Seelandse spanne te wees wat tot die uitspeelrondes kan/gaan deurdring.

Dit wys jou net watter waarde ʼn afrigter kan toevoeg, want Leon MacDonald  (ook ʼn oud-Crusader) doen iets reg, wat Tana Umaga, Pat Lam en John Kirwan voor hom nie kon regkry nie. Ai toggie, wat sal die Stormers nie wou gee nie, of is ʼn mens te aspris? Dis ook hoekom die gevaarligte vir veral die Lions begin flikker, want hulle sal dit nie meer kan bekostig om vas te val nie.

Die Waratahs het nou 16 ligapunte en begin ook na ʼn aanspraakmaker op ʼn plek in die uitspeelrondes lyk.

Hoewel die Waratahs verloor het, was dit ʼn dag vir die heelagter Israel Folau, om te onthou.

Folau het sy 60ste Superrugby-drie gedruk (in sy 96ste wedstryd) en het verby die oud-All Black-vleuel Doug Howlett geskuif wat die vorige rekord van 59 (in 104 wedstryde) gehou het.

Rebels en Japanse Sunwolves

In Melbourne het die Rebels die Japanse Sunwolves met 42-15 geklop om hul boonste posisie in die Australiese afdeling te bevestig.

Die Rebels staan gemiddeld 11 strafskoppe per wedstryd af en dis iets waaraan die oud-Kapenaar Dave Wessels (afrigter) oor hard sal moet praat.

Die Rebels speel Vrydag teen die Stormers en geoordeel aan die vertonings van Reece Hodge, Quade Cooper, Will Genia en Adam Coleman, kan daar net een wenner wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frans C ·

Daar is nie ‘n Suid Afrikaanse span wat as sterk aanspraakmakers op die beker is nie.
Al die spanne is daarvoor te wisselvallig.Die Leeus gaan as hul al die spelers kan behou
‘n seisoen of twee vat om weer erêns te kom,want as die 13 spelers verloor hetsy deur beserings of oorsee gaan jy sukkel.

Die koop ‘n span mag oorsee goed werk,maar plaaslik moet ‘n mens maar tevrede wees
met manne wat terugkeer om op ou einde hul pensioen aan te vul.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.