Super-eindstryd: Kliniese Crusaders klop Jaguares

Argieffoto van die Crusaders ter illustrasie. (Foto: AP Photo/Mark Baker)

Lig maar die hoede baie hoog vir die Crusaders se rugbyspan, al is daar nie baie Nieu-Seelanders op jou Kerskaartjielysie nie.

Dit het gevolg nadat die Crusaders hul amperse alleenreg op die Superrugby-titel behou toe hulle die Argentynse Jaguares Saterdag in Christchurch met 19-3 in die eindstryd geklop het.

Dit was die afrigter, Scott Robertson, se derde opeenvolgende oorwinning sedert hy in 2017 aangestel is. Dit was ook die Crusaders se tiende titel in 14 eindstryde waarin hulle betrokke was sedert 1996.

Wie kan teen sulke statistieke stry?

Dit was boonop ʼn baie moeilike, ontwrigtende en emosionele jaar vir die Crusaders nadat hulle vroeg in die seisoen hul kragmeting met die Highlanders prysgegee het uit eerbied vir die meer as 50 slagoffers wat ná die moskee-skietery in Christchurch dood is.

Ook is die span deur ʼn ondersoek geruk ná bewerings van wangedrag deur Richie Mo’unga en George Bridge op hul toer na Suid-Afrika.

Onthou ook dat die Crusaders steeds in ʼn amperse tydelike stadion speel nadat ʼn aardbewing die ou Lancasterpark in Christchurch in 2011 erg beskadig het en dit sedertdien vervalle staan en wag om gesloop te word.

Maar ongeag dié voorvalle en terugslae het die Crusaders weer hul vermoë getoon om uit te styg, dit op die rak te plaas en op die eindstryd te konsentreer.

Vergeet ook maar daarvan dat een van die hulpafrigters, Ronan O’Gara, op pad is na La Rochelle in Frankryk, dat verskeie sterspelers soos Kieran Read nie weer terugkeer nie.

Die groot verskil was dat die Crusaders presies geweet het wat dit verg om ʼn eindstryd te wen, terwyl die oomblik straks te groot was vir die Jaguares in hul eerste probeerslag.

Dit was beslis nie Crusaders se beste vertoning in ʼn eindstryd nie, maar dit is die kenmerke van ʼn goeie span om steeds aan die wenkant te bly al speel hy nie te goed nie.

Die Jaguares het vooraf geweet hulle sal iets besonders moet doen om die Crusaders te kan troef.

Maar hulle het daarin misluk.

Veral in die eerste helfte, toe hulle takties swak geskop het en nie hul kanse benut het nie.

Die Crusaders was rustyd met 10-3 voor en die Jaguares het nie hul kanse gebruik nie. Die slag was toe reeds geslaan.

Die Jaguares sou baie uit hul nederlaag geleer het, die senuwees sal ʼn moontlike tweede keer nie lol nie, hulle sal nie afwyk van hul spelpatroon wat hulle in die eindstryd gebring het.

Die statistieke sê dat die Crusaders met minder besit verder met die bal gevorder (320 meter teenoor 301), hulle het meer duikslae uitgevoer (132 teenoor 94) en hulle het die bal minder aan- en uitgegee (99 teenoor 325) en minder geskop (25 teenoor 32).

Dit gaan nie maklik wees om die Crusaders-sneltrein van die Superspoor te dwing nie.

Puntemakers: Crusaders 19 (10): Drie; Codie Taylor. Doelskop: Richie Mo’unga. Strafdoele: Mo’unga (4).

Jaguares 3 (3): Strafdoel. Joaquin Diaz-Bonilla.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Swartwolf ·

Goeie wedstryd. Jaguars goed gedoen vir eerste final. Crusaders moes uithaal on te wen maar steeds ‘n great kampioen span. Ma’unga beste 10 in wereld rugby.

Riaan ·

Leke boys 10 de keer gewen, Flou koeie somer dood stil soos gewoonlik.
Nou vir die All Blacks om daai Groenetjies groot pakslae te gee.

Swartwolf ·

Ek is ‘n bul supporter en wens Crusaders geluk. Wonder of jy dit sou gedoen het tenoor die Jaguares as hul vandag gewen het.

Cuda ·

Swartwolf, ek wil ook Crusaders en Jaguars gelukwens. Hulle verdien dit. Om 10 keer daai koppie te lig, sit nie in enige span nie. Ons Bulle het dit al 3 keer geproe en dis lekker. Vir ‘n Bul ondersteuner tel ek van daai 3 titels in dieselfde spasie as WB 1995/2007. Ons het selfs die Crusaders geklop oppad na van daai bekers toe. So wat voel jy vir iemand wat jou nulle, flou koeie, ens noem? Niks! Dis al wat hulle het om beter te voel, dis om ander te beledig…

Babertondaisy ·

Dis die stompie supporters wat so suur is. Soos daai Cape Maori wannabee’s as die stompies nie wen nie support hulle engie ander span wat teen ‘n SA span speel. Crusaders great team en ware kampioene. Trots op bulle met reeds 3. Beter as enige ander SA span.

piet piet ·

Sa rugby is so ver agter die ander rugby lande ons sal moet begin om oorsese rugby spanne te ondersteun.

Niklaas ·

Ek wil liewer nie dink aan die stand van SA se 4 spanne hierdie tyd volgende jaar in dieselfde kampioenskap nie. Daar is nou reeds n ernstige groot vlaag van spelers wat gereed maak om vanaf later vanjaar die land se grense oor te steek na Japan , Frankryk en Brittanje. Wat oorbly sal dan een swaar gesukkel hê om meer as 2 wedstryde te wen in hierdie kompetisie. Foei tog. Ons toekoms lyk maar donker.

Frans C ·

Wat ‘n mens uit die wedstryd kan wys word ,is dat kommersiële belange voorkeur oor
rugbybelange geniet het.Omdat die wedstryd so laat in die aand gespeel is om soveel
mense wêreldwys instaat te stel om die wedstryd te volg,was die speeltoestande nie gunstig vir veral die Jaguares nie.

Die gevolg was dat hul vier geleentehede om drieë te druk verbrou het.Die Crusaders het hul beter aangepas en die een geleentheid om ‘n drie te druk benut het.Onder ander omstandighede kon die uitslag anders gewees het wat weereens ‘n bewys is van hoe belangrik ‘n tuiswedstryd is.

Dat die Jaguares ‘n gevaar in die wêreldbeker kan wees het hul duidelik hierdie jaar bewys en kan lande soos Suid Afrika en die Aussies nie te gerus wees nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.