Super12: dis aarde toe vir Progress

progress-logoNadat hy verlede week die pas in die Oos-Kaapse Super12-reeks met `n reusesege oor Winter Rose aangegee het, is dit Saterdag aarde toe vir Progress teen sy Port Elizabethse teenstander Spring Rose.

Albei spanne het met oorwinnings weggespring en die Uitenhaagse span het sy Grens-teenstander 77-0 oorweldig.

Hy kan egter Saterdag `n geheel en al ander uitdaging teen Spring Rose te wagte wees en dit sal waarskynlik `n naelbytuitslag oplewer.

Winter Rose sal hoop om teen Berlin Tigers, ook van Grens, met `n goeie herstelpoging vorendag te kom.

Groep B lyk al hoe meer na die reeks se “groep van die dood” en die tweede ronde sal genadeloos wees.

Verlede jaar se naaswenner, Gardens, was effens vinniger uit die wegspringblokke toe hy die verdedigende kampioen, Oos-Londen Polisie, 13-5 geklop het, maar reis Saterdag Oos-Londen toe vir `n beproewende kragmeting teen Buffalo.

Buffs het die knie teen die Grahamstadse Brumbies gebuig, en speel Saterdag met die wete dat nog `n nederlaag hom sy kans in die uitspeelronde sal laat verbeur.

Die Brumbies steek ook die Visrivier oor, en met alles op die spel, kan hy hom maar gereedmaak vir `n weerslag van Oos-Londen Polisie se kant af.

Groep C se eersteronde-wenners, Park (Port Elizabeth) en Trying Stars (Alexandria), sê mekaar die stryd in `n sleutelbepaling op Londtpark aan. Die wenspan sal `n goeie kans hê om in die kwarteeindronde te speel.

Trying Stars was die verrassingspakkie verlede jaar in die OP se Grootuitdaagreeks en hy sal vanjaar moet toon dat hy kan bybly. Dit sal nie maklik teen die tradisioneel sterk Park-span gaan nie.

Die bepalings –

Groep A: Spring Rose teen Progress, Berlin Tigers teen Winter Rose

Groep B: EL Police teen Brumbies, Buffalos teen Gardens

Groep C: Park teen Trying Stars, Walter Sisulu University teen Breakers

(Berig deur OPRU verskaf.)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.