Super12-reeks begin rampspoedig vir kampioene

ec-prov-gov-320x180Vanjaar se Oos-Kaapse Super12-reeks het Saterdag rampspoedig vir sowel die reekskampioen as die kampioene van die Oostelike Provinsie en Grens begin.

Die grootste verrassings is deur twee Grens-klubs opgelewer, en die hoop ontstaan dat die bond se topklubs vanjaar mededingender sal wees as verlede jaar toe die OP klubs die reeks oorheers het.

Trouens, waar OP-klubs al ses wedstryde in verlede jaar se eerste ronde gewen het, is dit dié keer vier uit ses vir die Grensklubs. In twee gevalle was dit weliswaar teen klubs van dieselfde bond.

Swallows van Mdantsane, wat sy eeufees in 2012 gevier het, het as die grootste leeutemmer uit die stryd getree deur Gardens van Uitenhage 16-12 te klop.

Gardens het verlede jaar sowel die Super12-reeks as die OP se Grootuitdaagbeker gewen.

Grens se kampioen, Oos-Londen Polisie, het sy moses boonop op sy tuisveld teëgekom toe Buffaloes (Oos-Londen) hom 10-7 geklop het.

Verlede jaar se naaswenner, Spring Rose (New Brighton), het sy wedstryd teen Park 22-17 gewen; Progress (Uitenhage) het Despatch 26-14 geklop; die Walter Sisulu-universiteit (Potsdam) het Port Elizabeth Harlequins 26-14 geklop; en Cambridge (Oos-Londen) het 25-18 teen Breakers (Queenstown) gewen.

Die reeks word deur die Oos-Kaapse Departement van Sport, Ontspanning, Kuns en Kultuur (DSOKK) geborg en onder die vaandel van die departement en die Oos-Kaapse Sportfederasie aangebied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.