Super12: Ses uit ses vir OP-klubs

gardens op twitterDie Oostelike Provinsie-rugbyunie (OPRU) kon nie vir `n beter eerste ronde Saterdag in die Oos-Kaapse Super12-reeks vra nie, met al ses sy spanne wat wat hul teenstanders van die Grens-rugbyunie (GRU) getroef het – al was party seges net-net.

Een van die mees betekenisvolle uitslae was Gardens se oorwinning van 13-5 oor die verdedigende kampioen, Oos-Londen Polisie. Die telling dui op die Uitenhaagse span se vasbeslotenheid om vanjaar in die eindstryd te speel.

In die ander wedstryd in Groep B het Brumbies van Grahamstad sy klein afgesteek met `n stewige oorwinning van 27-12 oor Buffalo van Oos-Londen. Die wenspan het vier drieë vir `n bonuspunt gedruk.

Die naelskraapste seges was in Groep C waar Park (Port Elizabeth) en Trying Stars (Alexandria) elk met `n enkele punt gewen het. Park moes nat weer trotseer om die Walter Sisulu-universiteit (Potsdam) 18-17 te klop; en Trying Stars het aan `n sege van 33-32 teen `n gewillige Breakers (Queenstown) vasgeklou.

Progress het `n sterk boodskap aan sy teenstanders gestuur deur Winter Rose (Mdantsane) 77-0 op Uitenhage te looi. Spring Rose (New Brighton) het `n belangrike wegoorwinning van 22-12 teen Berlin Tigers aangeteken.

Die uitslae –

Groep A: Berlin Tigers 12, Spring Rose 22; Progress 77, Winter Rose 0.

Groep B: Gardens 13, Oos-Londen Polisie 5; Brumbies 27, Buffalo 12.

Groep C: Park 18, WSU 17; Trying Stars 33, Breakers 32.

(Berig deur die OPRU verskaf.)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.