Superreeks bly maar ʼn ongelyke spulletjie, wys bepalings

super-rugby-2016-trophyIn vorige Superreekse was daar altyd die klagtes én verskonings dat Suid-Afrikaanse spanne deur lang toere van tot selfs vyf weke van die huis was met hulle (soms) vier wedstryde in Australië.

Die nuwe, baie deurmekaar struktuur van die huidige Super18-kompetisie sou dit verander, is daar belowe en geglo. Dit is inderdaad in die meeste spanne se geval wel so, en dit was verlede jaar – en sal vanjaar weer so wees – die Jaguares wat dit werklik ontgeld omdat hulle vir al hulle wedstryde oor talle tydsones oos moet vlieg.

Maar ʼn kykie na die Suid-Afrikaanse bepalings vir die reeks wat aanstaande Donderdag begin wys dat dit steeds nie vir al die SA spanne maanskyn en rose sal wees nie.

♦  Terloops, daar word vanjaar ook soms op Donderdae en Sondae gespeel, wat rustyd tussen wedstryde minder en meer maak. En sommige spanne speel sewe tuis en agt weg, en die ander speel omgekeerd).

Bulls –

Om mee weg te spring: As ʼn mens gedink het Loftus was verlede jaar leeg, moet jy dit vanjaar sien! In elk geval tot en met 15 April.

Tot dan speel die Bulls vyf van hulle eerste ses wedstryde weg, met die enigste tuiswedstryd dié teen  die Sunwolves – die Bulls se derde op 17 Maart.

Aan die pluskant het die Bulls sewe van hulle laaste nege wedstryde wat op Loftus gespeel word.

Hulle spring weg (albei wegwedstryde) teen die Stormers en die Cheetahs. Dan is daar na die enkele Sunwolves-wedstryd tuis die nagmerrie van twee Nieu-Seelandse spanne en die Sunwolves in Tokio op hulle toer van drie wedstryde na Nieu-Seeland en Japan.

Hul twee wegwedstryde in die laaste nege is teen die Lions en die Sharks.

Cheetahs –

Die Cheetahs begin met vier van hulle eerste vyf wedstryde tuis. Die slaggat vir hulle is die derde wedstryd wat in Argentinië is en wat ʼn taai reis en ook wedstryd is. Dan is hulle op ʼn amperse een tuis, een weg-basis en eindig tuis teen eers die Stormers en dan weg teen die Southern Kings.

In Mei is hulle egter op reis in Nieu-Seeland (teen die Blues en die Hurricanes) en dan die Sunwolves.

Lions –

Die Lions speel hulle eerste agt wedstryde tuis, weg, tuis weg, wat hul toeskouers darem die hele tyd betrokke hou.

Die enigste uitdaging benewens die krag van hulle teenstander in hierdie agt is die derde wedstryd, na hulle die Waratahs ontvang het, wanneer hulle moet Argentinië toe om die Jaguares te probeer vasvat.

Hulle speel einde April/begin Mei op toer teen die Force, Rebels en Brumbies en hul laaste wedstryd is ʼn taaie weg, teen die Sharks, nadat hulle die vorige naweek tuis teen die Bulls uitgedraf het.

Sharks –

Die Sharks het stellig die moeilikste wegspring en ook die moeilikste einde in hulle bepalings.

Hulle speel hulle eerste wedstryd teen die Reds in Brisbane en dan teen die Brumbies in Canberra. En dan, met hulle terugkeer, is dit die Waratahs wat in Durban op hulle wag.

Daarna, met die uitsondering van hulle besoek aan die Jaguares einde April, is hulle bepalings maar redelik gewoon tussen tuis en weg versprei – totdat hulle, hoewel al drie tuis op Kingspark is, met die Stormers, Bulls en Lions te doen kry in hulle laaste drie wedstryde wat die uitspeelplekke kan bepaal.

Stormers –

Die Stormers kry in hulle eerste wedstryd op Nuweland te doen met die Bulls, seker hulle sterkste teenstander in hulle groep.

Maar aan die ander kant speel hulle die laaste wedstryd op Loftus, wat bepalend kan wees.

Hulle toer twee keer oorsee: eers Singapoer toe vir die wedstryd teen die Sunwolves einde Maart, en dan vir hulle Nieu-Seelandse wedstryde teen die Crusaders, Highlanders en Hurricanes einde April/begin Mei.

Hul toeskouers moet maar hoop hulle span is uit die staanspoor warm, want  hulle speel vyf van hulle sewe tuiswedstryde teen 15 April.

Daar is ook vyf tuiswedstryde in hulle eerste sewe.

Na 15 April bly net die Blues (middel Mei) en die Sunwolves in hulle voorlaaste wedstryd oor.

Southern Kings –

Die Kings spring tuis weg teen die Jaguares, maar moet dan op hulle eerste van twee oorsese reise vertrek – maar darem net vir een wedstryd, teen die Sunwolves. By hulle terugkeer wag die Stormers tuis, die Sharks weg en die Lions tuis voordat hulle die Force, Reds en Waratahs in Australië moet gaan pak.

Drie van die Kings se laaste vier wedstryde is weg teen die Lions, die Jaguares en die Bulls voordat hulle tuis teen die Cheetahs afsluit.

♦  Die Superbepalings, soos van Sanzaar verkry, is op Maroela op die skakel http://rugby.maroelamedia.co.za/superrugby-2017/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Nico K ·

En ek weet die storie is al afgesaag maar dan speel net sekere spanne teen Nieu Zeelandse spanne en ander weer net teen Australiese spanne wat ook nie regverdig is nie. Hulle behoort dit ook te verander.

Frans C ·

Die konferensiestelsel is ingestelom darem Suid Afrikaanse en Australiese spanne ‘n kans te gee.Die Stomers het bv in 2016 met 51 punte derde geeindig terwyl die Highlanders met 52
punte vyfde geplaas is,want die Brumbies (konferensiewenners) is met 43 punte bo hul geplaas.Die Chiefs met 51 punte en Crusaders met 50 punte was sesde en sewende onderskeidelik.

As dit aandui dat Super 18 eintlik ‘n groot klug is, sal niks dit doen nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.