Superreeks: Dit gaan alles oor die All Blacks

Dit is steeds die nalatenskap van jare se isolasie, waar provinsialisme hoogty gevier het omdat die Springbokspan op aalmoese moes staatmaak.

Dit kon nie anders nie, want dit was jare lank Noord teen Suid (Noord-Transvaal teen die Westelike Provinsie); die groot Jukskei-derby (Transvaal teen Noord-Transvaal) was ook die lippe-aflekker; Vrystaat het waarde toegevoeg; en tot Pretoria se groot ontsteltenis het Natal hom later ook by die Groot Vier gevoeg.

Dis hoekom daar steeds nie behoorlike samehorigheid tussen die Suid-Afrikaanse Superspanne is nie, elkeen sy eie patroon en kop volg, want hoe dan anders?

Die Nieu-Seelandse spanne skop dié naweek hul Superseisoen af, en wat is die grootste besprekingspunt? Om ʼn adjudant vir die All Black-losskakel Beauden Barrett te vind omdat sy opvolgers, die Highlanders se Lima Sopoaga, ná die reeks koers kies Brittanje toe, en Aaron Cruden reeds in Frankryk speel. Ook om plaasvervangers vir Malakai Fekitoa (Highlanders en All Black-senter) en Tawera Kerr-Barlow (Hurricanes- en All Black-skrumskakel) te vind wat ook groener weivelde in Europa gaan soek het.

Dis nie die Noordeiland teen die Suideiland nie! Dit wentel alles om All Black-rugby.

Die Highlanders, onder hul nuwe afrigter, Aaron Mauger, skop Vrydagoggend in Dunedin af teen die Blues. Mauger, wat jare lank die losskakel Dan Carter se groot bondgenoot in die middelveld was, sy oë en ore was, en hom tot groot hoogtes aangespoor het, neem oor by Tony Brown, wat die Highlanders in ʼn span gesmee het wat die meeste in Nieu-Seelandse rugby geskop het. Dis hoe Brown gespeel het, dis hoe hy die Highlanders afgerig het, maar dis nie eintlik hoe die All Blacks wil speel nie.

In die Blues se hoek is daar Tana Umaga, die legendariese All Black-senter, wat steeds sukkel om as Superrugby-afrigter reg te kom. Die Blues het, sedert Graham Henry hulle jare gelede afgerig het, ondanks hul borrelende talent nie aan die verwagtinge voldoen nie. Nie onder Peter Sloane nie, nie onder Frank Oliver nie, nie onder Gordon Hunter nie, nie onder David Nucifora nie, nie onder John Kirwan nie en ook nie onder Pat Lam nie.

Die spanne –

Highlanders: Ben Smith (medekaptein), Waisake Naholo, Rob Thompson, Tei Walden, Tevita Li, Lima Sopoaga, Aaron Smith, Luke Whitelock, Dillon Hunt, Liam Squire, Tom Franklin, Jackson Hemopo, Siate Tokolahi, Ash Dixon (medekaptein), Daniel Lienert-Brown. Bank: Liam Coltman, Aki Seiuli, Tyrel Lomax, Dan Pryor, Elliot Dixon, Kayne Hammington, Fletcher Smith, Matt Faddes.

Blues: Michael Collins, Matt Duffie, George Moala, Sonny Bill Williams, Rieko Ioane, Bryn Gatland, Augustine Pulu (kaptein); Akira Ioane, Murphy Taramai, Glenn Preston, Scott Scrafton, Gerard Cowley-Tuioti, Ofa Tu’ungafasi, James Parsons, Alex Hodgman. Bank: Leni Apisai, Pauliasi Manu, Michael Tamoaieta, Patrick Tuipulotu, Sione Havili/Antonio Kiri Kiri, Jonathan Ruru, Daniel Kirkpatrick, Melani Nanai.

Crusaders teen Chiefs

♦ Saterdag in Christchurch pak die Crusaders die Chiefs waar die losskakel-tweestryd tussen die nuwe kroonprins, Richie Mo’unga (Crusaders), en die Chiefs se Damian McKenzie in die kollig is.

Albei is baie vaardig, het tonne talent, en wees maar verseker, die All Black-afrigter, Steve Hansen, sal na alle waarskynlikheid op die paviljoen wees.

Die spanne —

Crusaders: David Havili, Seta Tamanivalu, Jack Goodhue, Ryan Crotty, George Bridge, Richie Mo’unga, Bryn Hall, Jordan Taufua, Matt Todd, Pete Samu, Sam Whitelock (kaptein), Luke Romano, Michael Alaalatoa, Codie Taylor, Wyatt Crockett. Bank: Ben Funnell, Chris King, Oliver Jager, Scott Barrett, Billy Marmon, Mitchell Drummond, Mitchell Hunt, Manasa Mataele.

Chiefs: Charlie Ngatai (medekaptein), Shaun Stevenson, Anton Lienert-Brown, Johnny Fa’auli, Solomon Alaimalo, Damian McKenzie, Brad Weber, Taleni Seu, Sam Cane (medekaptein), Mitchell Brown, Dominic Bird, Brodie Retallick, Nepo Laulala, Nathan Harris, Aidan Ross. Bank: Liam Polwart, Atu Moli, Angus Ta’avo, Liam Messam, Lachlan Boshier, Te Toiroa Tahuriorangi, Marty McKenzie, Sean Wainui.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jack Russl ·

“nalatingskap van jare se isolasie”, die storie van alles blameer op apartheid raak nou afgesaak. Orals hoor ‘n mens net apartheid se skuld vir hierdie en vir daardie. Dit is die grootste klomp nonsens.

Provinsialme het niks daarmee te doen nie. SARU is die probleem. Hulle het agtergebly in die amateur era, NZ het saam met die tye beweeg in die professionele era in. SARU moet die spanne bymekaar bring sodat hulle na een doel toe kan werk. Wat is die rede vir die klomp indabas wat gehou word as elkeen nog sy eie kop volg?

Frans C ·

Dit is nie net SARU se skuld nie, provinsiale spanne en hul ondersteuners is ewe skuldig.
Toe beroepsrugby aangebreek het,het 9-wat hul provinsies, bymekaar gekom om die Wellington Hurricanes te stig.
Hulle het op ‘n ‘Ruck and Run’ patroon besluit en uiteindelik na 21 jaar in 2016 die kompetisie gewen.

Wat gebeur in Suid Afrika? SARU gooi ‘n verswakte Kingsspan vir die wolwe.Ander groot
provinsies soos die Sharks en Stormers koop ster Kings/Cheetahsspeler aan.

Dit maak nie Suid Afrikaaanse rugby beter nie,maar versterk net sekere provinsiale spanne.Ondersteuners van die spanne kraak dan ewe lustig die verswakte spanne af,met vennynige en geniepsige kommentaar, op ‘n verskeidenheid forums.

Dit is geen wonder dat met die uittog van spelers en provinsialistiese uitkyk, Suid Afrika se rugby is, wat dit is en nog baie jare aan die agterste speen gaan suig, indien rugby nie ‘n gees van samewerking,uitruiling van idees en saamsnoering van kragte ontwikkel nie.

Callie ·

Verstaan glad nie hoekom almal een patroon moet speel nie. Wie se patroon is dit. Alle inisiatief van afrigters word onderdruk. So sal rugby finaal doodbloei. Ele afrigter bring tog met sy spelpatroon n nuwe dimensie na die game

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.