Superreeks: Hier gaan ons alweer

Só moes die Sharks dikwels bontstaan (Foto: GB Jordaan)

Rassie Erasmus behoort geen probleem te hê om ʼn mededingende Springbokspan te kies nie, maar of hy hulle sal kan saamsnoer in ʼn hegte eenheid, is ʼn ander vraag.

Dit was Saterdag op Kingspark in Durban baie duidelik toe die Bulls die Sharks met 40-10 verfomfaai het.

Ja, die eindtelling is dalk misleidend, maar die Sharks se onbestendigheid, hul onvermoë om aan te pas, na ʼn hoër rat oor te skakel en by die toestande aan te pas, is kommerwekkend.

Onthou, die neerlaag was teen ʼn Bulls-span wat in ʼn oorgangsfase is, maar wat duidelik deur ʼn afrigter afgerig word wat die lang paadjie reeds gestap het en wie se span in hom glo.

Dis ook nie net by die Sharks waar dit gebeur nie.

Onthou dat die Superreeks na 15 spanne verklein is, maar het die Suid-Afrikaanse spanne baat daarby gevind?

Die Lions (wat nog oorsee moet toer) is tweede op die algehele puntelys (25 punte), gevolg deur die Bulls (agste met 14 punte), Sharks (10de,ook met 14 punte) en die Stormers (11de met 13 punte).

Die vier SA spanne kon tot dusver nog net 16 van hul 39 wedstryde wen; dit is ʼn wenpersentasie van slegs 41,02%.

Vergelyk dit met die Aussies se effense beter 42,9% en veral die Kiwi’s  se 64.7% en die prentjie lyk donker.

Warrick Gelant – hy het drie keer gaan druk en was een van die beste spelers op die veld. (Foto GB Jordaan)

Hoeveel spelers het Saterdag op Kingspark na vore getree? Warrick Gelant, Handré Pollard en Lood de Jager?

Hoeveel Sharks het hul aspirasies versterk? Noem hulle maar op …

Die Sharks het onlangs teen die Blues en Hurricanes baie goed vertoon, maar het vroeg in die reeks onder meer teen die Lions, Reds, Brumbies en Waratahs (dit was darem gelykop) en nou ook teen die Bulls verbrou.

Dit dui op onbestendigheid, dat hulle nie die nodige aanpassings kan maak nie.

As hulle nie voorlangs oorheers nie, dan val hul planne uitmekaar.

Wil jy sulke spelers in die toetsspan hê?

♦ In ander Superwedstryde die naweek was daar die verrassing van die Jaguares wat een van die voorste spanne, die Rebels, op dié se tuisveld in Melbourne pak gegee het, 25-22.

Die Highlanders het die Brumbies met 43-17 uitmekaar gespeel; die Waratahs was tuis te goed vir die Reds (37-16); en die Blues het darem ʼn tweede  oorwinning behaal toe hulle die Sunwolves in Tokio danksy drie drieë na rustyd met 24-10 hokgeslaan het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Fanie Smit ·

Dit was die Jaguares wat die Rebels gewen het. Nie die Hurricanes nie.

Petrus ·

Waarom het die Sharks verbrou teen die Bulls? Die agterlyn was lusteloos en het nie geleenthede gekry nie. Verlede jaar met Bosh as losskakel het die senters en vleuels baie beter gelyk. Hy is ook meer aanvallend en skeppend as Du Preez. Die 4 Du Preez in een span klink goed, maar is dalk die Sahrks se ondergang. Gelant, Pollard en Lood de Jager lyk lus vir rugby. Verder was daar nie veel om oor opgewonde te raak nie.

Wim van der Berg ·

Dankie, Fanie, vir die uitwys van die fout. Dit is reeds reggemaak.

Ligblou ·

In plaas van dat daar ‘n artikel is wat fokus op hoe goed die Bulle gespeel het en ontwikkel, ontaard dit in ‘n kerm artikel oor hoe sleg sa rugby is. Kon dalk ‘n aparte artikel daaroor geskryf het?

As Sharks gewen het, sou ons seker gehoor het oor die groot hoop wat daar nou is vir sa rugby?

So terloops, die volgende spelers het almal nog ‘n regmerkie gekry vir ‘n boktrui: Trevor, RG, Lood, Marco, Roelof, Ivan, Pollard, Kriel, Gelant. En Strauss kan maar gerus oortuig word om weer bok rugby te speel, by verre ons 2de beste haker in die land.

Frans C ·

Onbestendigheid was vanjaar ‘n siekte by al die Suid Afrikaanse spanne.Kyk ‘n mens na die talent wat daar in al die spanne is,beserings inaggenome,behoort hul nie so te sukkel nie.
Die probleem is mi dat ons spanne slegs kan wen as hul patroon van speel oorheers,gebeur dit nie sukkel hul om aan te pas en gee dan selfs soos die Leeus groot voorspronge weg en veloor wedstryde wat hu moes gewen het.

Die Rebels van Australie sit met dieselfde probleem,is myle voor in wedstryde en verloor dan in die 2de helfte,soms met groot tellings.’n Mens kan spelers wil inskryf in ‘n Springbokspan na een of twee goeie vertonings nie.Ons het gesien hoe selfs van die Leeusspelers uitstekend op Superrugbyvlak vertoon om in toetsrugby te sukkel omdat die speelpatroon waarin hul goed vaar nie langer daar is nie.

Mense kan maar kwaad raak maar daar is baie talentvolle spelers in Suid Afrika,maar min voetballers, manne soos Mannetjies Roux , of Danie Gerber ens, wat ‘n wedstryd met ‘n stukkie briljante spel kan omkeer.In vandag se rugby word bewegings ingedril en as die in die wedstryd slaag lyk dit briljant,slaag dit nie val dit soos ‘n swak resep uitmekaar.

Ons soek voetballers, ouens wat die spel lees en met die onverwagte mense opgewonde raak, en dit ‘n lus maak om te kyk,nie robotte nie.

Joe Hall ·

So van “voetballers” gepraat waarna jy blykbaar op soek is…
Die Bulle het die omstandighede skitterend volgens hul sterkpunte “ge-voetballer”.
Een van verskeie voorbeelde het binne die eerste minute van die wedstryd plaasgevind – Pollard se in-die-kol lugskoppie/aangee – wat deur Gelant gedruk is.

Frans C ·

Galant was teen ‘n Sharksspan wat aan bomskok gely het briljant.Nou moet hy wys dat hy dit op internasionale vlak dit kan doen teen spelers wat net so goed of miskien selfs ‘n bietjie beter is.
Onthou Gerber en die manne het hul staal teen die bestes in wêreldrugby bewys. Indien Galant dieselfde teen die Kiwis en Aussies en selfs die Engelse kan regkry, kan ‘n mens sê dat hy werklik goed is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.