Superreeks: Hier gaan ons alweer

Só moes die Sharks dikwels bontstaan (Foto: GB Jordaan)

Rassie Erasmus behoort geen probleem te hê om ʼn mededingende Springbokspan te kies nie, maar of hy hulle sal kan saamsnoer in ʼn hegte eenheid, is ʼn ander vraag.

Dit was Saterdag op Kingspark in Durban baie duidelik toe die Bulls die Sharks met 40-10 verfomfaai het.

Ja, die eindtelling is dalk misleidend, maar die Sharks se onbestendigheid, hul onvermoë om aan te pas, na ʼn hoër rat oor te skakel en by die toestande aan te pas, is kommerwekkend.

Onthou, die neerlaag was teen ʼn Bulls-span wat in ʼn oorgangsfase is, maar wat duidelik deur ʼn afrigter afgerig word wat die lang paadjie reeds gestap het en wie se span in hom glo.

Dis ook nie net by die Sharks waar dit gebeur nie.

Onthou dat die Superreeks na 15 spanne verklein is, maar het die Suid-Afrikaanse spanne baat daarby gevind?

Die Lions (wat nog oorsee moet toer) is tweede op die algehele puntelys (25 punte), gevolg deur die Bulls (agste met 14 punte), Sharks (10de,ook met 14 punte) en die Stormers (11de met 13 punte).

Die vier SA spanne kon tot dusver nog net 16 van hul 39 wedstryde wen; dit is ʼn wenpersentasie van slegs 41,02%.

Vergelyk dit met die Aussies se effense beter 42,9% en veral die Kiwi’s  se 64.7% en die prentjie lyk donker.

Warrick Gelant – hy het drie keer gaan druk en was een van die beste spelers op die veld. (Foto GB Jordaan)

Hoeveel spelers het Saterdag op Kingspark na vore getree? Warrick Gelant, Handré Pollard en Lood de Jager?

Hoeveel Sharks het hul aspirasies versterk? Noem hulle maar op …

Die Sharks het onlangs teen die Blues en Hurricanes baie goed vertoon, maar het vroeg in die reeks onder meer teen die Lions, Reds, Brumbies en Waratahs (dit was darem gelykop) en nou ook teen die Bulls verbrou.

Dit dui op onbestendigheid, dat hulle nie die nodige aanpassings kan maak nie.

As hulle nie voorlangs oorheers nie, dan val hul planne uitmekaar.

Wil jy sulke spelers in die toetsspan hê?

♦ In ander Superwedstryde die naweek was daar die verrassing van die Jaguares wat een van die voorste spanne, die Rebels, op dié se tuisveld in Melbourne pak gegee het, 25-22.

Die Highlanders het die Brumbies met 43-17 uitmekaar gespeel; die Waratahs was tuis te goed vir die Reds (37-16); en die Blues het darem ʼn tweede  oorwinning behaal toe hulle die Sunwolves in Tokio danksy drie drieë na rustyd met 24-10 hokgeslaan het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
Fanie Smit

Dit was die Jaguares wat die Rebels gewen het. Nie die Hurricanes nie.

Petrus

Waarom het die Sharks verbrou teen die Bulls? Die agterlyn was lusteloos en het nie geleenthede gekry nie. Verlede jaar met Bosh as losskakel het die senters en vleuels baie beter gelyk. Hy is ook meer aanvallend en skeppend as Du Preez. Die 4 Du Preez in een span klink goed, maar is dalk die Sahrks se ondergang. Gelant, Pollard en Lood de Jager lyk lus vir rugby. Verder was daar nie veel om oor opgewonde te raak nie.

Wim van der Berg

Dankie, Fanie, vir die uitwys van die fout. Dit is reeds reggemaak.

Jody

Die bleus het die lions gewen nie die stormers nie

Ligblou

In plaas van dat daar ‘n artikel is wat fokus op hoe goed die Bulle gespeel het en ontwikkel, ontaard dit in ‘n kerm artikel oor hoe sleg sa rugby is. Kon dalk ‘n aparte artikel daaroor geskryf het? As Sharks gewen het, sou ons seker gehoor het oor die groot hoop wat daar nou is vir sa rugby? So terloops, die volgende spelers het almal nog ‘n regmerkie gekry vir ‘n boktrui: Trevor, RG, Lood, Marco, Roelof, Ivan, Pollard, Kriel, Gelant. En Strauss kan maar gerus oortuig word om weer bok rugby te speel, by verre ons 2de beste… Lees meer »