Superreeks: is die Stormers net papiertiere?

Verlede jaar is daar gesê die Stormers is op die regte pad, hulle speel wenrugby en kan die Superreeks wen … maar só ook die jaar daarvoor, en daarvoor.

Daar is vanjaar (weer) ʼn oplewing in die Kaap; die Stormers het baie goed vertoon teen die Cheetahs en Bulls, maar is nog nie geweeg teen die Nieu-Seelandse hardebaarde nie.

Dit was verlede jaar dieselfde storie en toe word hul leemtes in die kwarteindronde deur die Chiefs oopgevlek toe hulle met 60-15 op Nuweland kafgedraf is.

Saterdag op Nuweland word die handskoene teen die Chiefs afgehaal en daarna volg die Lions (Nuweland) en wegwedstryde teen die Crusaders, Highlanders en Hurricanes, en die Blues en Sharks.

As die Stormers dan nog ongeskonde is, sal almal saamstem, is hulle op die regte pad.

Kom ons kyk na die statistiek, wat glo nie lieg nie.

Die Stormers het vanjaar reeds 29 drieë gedruk en 13 afgestaan, onder meer teen die Sunwolves (vier) en die Southern Kings (een).

Die Chiefs het 18 keer gedruk en net ses drieë” afgestaan … teen Nieu-Seelandse teenstanders.

Is daar ʼn vergelyking?

Die Chiefs is op papier uitgedun, sonder Sonny Bill Williams (Blues) en die beseerde Sam Cane, Tim Nanai-Williams, Charlie Ngatai en Brad Weber.

Maar as enigiemand teen Damian McKenzie, Aaron Cruden,  Tawera Kerr-Barlow, Brodie Retallick, Liam Messam en Michael Leitch wil wed, nouja …

Boonop speel die Chiefs op Nuweland, die Nieu-Seelandse spanne se gunsteling-tuiste weg van die huis af.

♦  Die Bulls kom Saterdagoggend in Tokio teen die Sunwolves te staan. Maak gereed vir nog ʼn skok, tensy die Bulls se fisieke voorspelers só sal oorheers dat die Japanners nie al die gate en dryfmale sal kan keer nie.

Die Bulls het die Chiefs verlede week in toom gehou, maar dis hoe jy die Nieu-Seelandse spanne al jare lank ontsenu. Trek hulle af, beperk hul besit in die vaste fasette, duik hulle agteruit en dwing hulle tot foute.

Dit behoort maklik teen die Sunwolves te gaan, die Bulls het reeds die rivier oorgesteek, maar dan het almal ook geglo dat Jacob Zuma sou bedank.

♦  Op Kingspark pak die Sharks die Jaguares .. die Argentynse verrassingspakkie in vanjaar se reeks.

Wees verseker, die Jaguares sal ʼn paar geelkaarte kry, want die inklimspel van Coenie Oosthuizen en die Du Preez-broers sal daarvoor sorg. Sal hulle teen die Sharks kan uithou? Nee.

♦  En die Kings? Slae wag in Perth teen ʼn ewe sukkelende Force.

♦  Die Lions en die Cheetahs kry die naweek blaaskans, en in Australasië ontvang die Hurricanes Vrydag die Waratahs in Wellington en die Highlanders speel Saterdag tuis teen die Blues.

Die naweek se bepalings:

Vrydag: 09:35 Hurricanes vs Waratahs (Wellington)
Saterdag: 07:15: Sunwolves vs Bulls (Tokio)
09:35: Highlanders vs Blues (Dunedin)
11:45: Brumbies vs Reds (Canberra)
15:05: Sharks vs Jaguares (Durban)
17:05: Stormers vs Chiefs (Kaapstad)
Sondag: 08:05: Force vs Southern Kings (Perth)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.