Superreeks: Is dit ʼn nuwe hoofstuk in Stormersrugby?

Die Stormers het van die beste aanvallers in die Superrugbyreeks en hulle kan die drieë laat vloei, maar kan hulle verdedig?

Dit is die groot vraag wat Saterdagmiddag, en die res van die seisoen, beantwoord moet word wanneer die Stormers die reeks met hul kragmeting op Nuweland met die Argentynse Jaguares inlui.

Die agterste driehoek van Dillyn Leyds, die nuwe aanwins van die Cheetahs, Raymond Rhule, en die sewes-Blitsbok Seabelo Senatla, kan met hul vaart, lyfswaaie en systappe enige span se verdediging aan flarde ruk, maar hul leemtes op die verdediging is ook al uitgebuit.

Rhule se Springbokloopbaan is verlede seisoen (tydelik) kortgeknip toe hy sewe duikslae in die toets teen die All Blacks in Albany gemis het.

Kan sy koms na die Kaap nuwe lewe in sy loopbaan plaas?

Kan die opwindende Damian Willemse (losskakel) en die senters EW Viljoen en Damian de Allende genoeg kanse vir die drie vinnige manne op die aanval skep?

Teen die Jaguares moet die eerste sooi gespit word, want al is die Argentynse agterste driehoek van Joaquin Tuculet, Emiliano Boffelli en Ramiro Moyano almal toetsspelers, is hulle nie van dieselfde gehalte nie.

Al waar die Jaguares hul man behoorlik sal staan, is in die skrums en by die afbreekpunte. Die oud-Poemashaker Mario Ledesma rig vanjaar die Jaguares af en wees maar verseker dat hulle gaan maal, rol, dryf en skrum. Vergeet maar daarvan dat die Jaguares op Nuweland ʼn span is wat uit toetsspelers bestaan, want eintlik hoort die Jaguares (en Sunwolves) in die Pro14-reeks, en nie die Cheetahs nie.

Dit gaan baie belangrik vir die Stormers wees om die Jaguares deeglik af te stof, want in die volgende drie weke wag die Waratahs (Sydney), Crusaders (Christchurch) en Highlanders (Dunedin).

As jy nie genoeg drieë teen die Jaguares druk nie, gaan jy dit ook nie teen die Nieu-Seelandse spanne doen nie. En dan moet jy ook nie drieë deurlaat nie.

Elke jaar heers daar groot opwinding in die Kaap. Nou is dit (weer) sulke tyd om daardie vertroue te staaf.

Om weer net tot die groep-uitspeelrondes deur te dring, is nie genoeg nie.

Spanne –

Stormers
15 Dillyn Leyds, 14 Seabelo Senatla, 13 EW Viljoen, 12 Damian de Allende, 11 Raymond Rhule, 10 Damian Willemse, 9 Dewaldt Duvenage, 8 Nizaam Carr, 7 Cobus Wiese, 6 Siya Kolisi (kapt.), 5 JD Schickerling, 4 Chris van Zyl, 3 Wilco Louw, 2 Bongi Mbonambi, 1 Steven Kitshoff. Bank: 16 Ramone Samuels, 17 JC Janse van Rensburg, 18 Carlu Sadie, 19 Jan de Klerk, 20 Kobus van Dyk, 21 Justin Phillips, 22 George Whitehead, 23 JJ Engelbrecht.

Jaguares
15 Joaquin Tuculet, 14 Ramiro Moyano, 13 Matias Orlando, 12 Bautista Ezcurra, 11 Emiliano Boffelli, 10 Nicolas Sanchez, 9 Gonzalo Bertanou, 8 Tomas Lezana, 7 Javier Ortega Desio, 6 Pablo Matera (k), 5 Tomas Lavanini, 4 Matias Alemanno, 3 Nahuel Tetaz Chaparro, 2 Agustin Creevy, 1 Felipe Arregui. Bank: Sal later aangewys word.

Skeidsregter: Jaco Peyper (SA).
Assistent-skeidsregters: Marius van der Westhuizen, Egon Seconds (albei SA).
Televisieskeidsregter: Christie du Preez (SA).
Afskop: 15:05.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Daan ·

Waarom gee julle nie die volledige prentjie nie? Die Stormers dring net deur omrede die patetiese puntestruktuur van die reeks dit toelaat. As deurdringing op puntebasis beslis sou word, sou die Stormers baie lanklaas in ‘n uitspeelwedstryd gehaal het!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.