‘Superreeks kan in 2016 doodloop’

Richie McCaw - sy laste Superseisoen

Richie McCaw – sy laaste Superseisoen

Daar heers ernstige kommer dat `n gebrek aan spelers van gehalte en `n voortspuitende verwatering in die mededingendheid die Superugbyreeks in 2016 kan laat doodloop.

The Sydney Morning Herald bespiegel dat die volgehoue stroping van die Suide se skatkis van talent deur ryk Noordelike klubs een van die faktore sal wees. Ander redes is:

♦Die uittrede van veterane ná afloop van die Rugbywêreldbeker
♦Die onbeskikbaarheid van party topspelers vanweë die Olimpiese Spele se seweskompetisie
♦Die toevoeging van drie nuwe franchise’e sal eenvoudig nie genoeg gehaltespelers laat om die reeks se peil te handhaaf nie en dat dié wat oorbly oor ‘n `n wye front versprei sal wees.

Die vooruitsig vir die reeks is die swakste in sy bestaan van twee dekades, sê die blad. Spelers soos ondermeer Richie McCaw, Dan Carter, Ma’a Nonu, Keven Mealamu, Tony Woodcock, Bismarck du Plessis, Victor Matfield, Jean de Villiers, Duane Vermeulen en Adam Ashley-Cooper is reeds onder die voorste toetsspelers wat óf gaan uittree óf `n goue handdruk in Europa of Japan sal najaag. Daar is nog vele ander en nóg sal in die komende maande na vore tree.

Saam met die toenemende stroom jonger spelers en afgeronde Superrugbyspelers wat koers vat na die geldpotte van Europa lyk dit reeds of die talent die dunste in die bestaan van Superrugby sal wees.

“Die probleem word verskerp deur die Olimpiese Spele wat sal veroorsaak dat manne soos Sonny Bill Williams, Liam Messam en dalk Julian Savea weens sewesverpligtinge grootliks vir die Superreeks verlore sal wees,” sê die Herald.

Met `n sesde SA span en nuwe franchise’e in Argentinië en Japan is daar ‘n wesenlike gevaar dat die spelertalent so dun versprei sal word dat die reeks in duie stort.

Wat Australië betref, sê die blad, baar die spel se wankelrige toekoms verdere kommer, veral omdat dit toenemend veld teen ander voetbalsoorte verloor.

Ashley-Cooper, Scott Higginbotham, Sekope Kepu, Nic White en James Horwill is op pad en die Aussies is wanhopig om Will Genia, Quade Cooper, Kurtley Beale en Israel Folau te behou wanneer hul kontrakte einde vanjaar verval.

Rugbybase in die Suide aanvaar dis hoegenaamd buite die kwessie om met die Noordelike beursies te wil probeer meeding, en dat hulle ander planne sal moet maak.

Suid-Afrika het reeds geswig en kies spelers wat oorsee speel, sê die Herald. Hoewel Nieu-Seeland vas staan en slegs spelers kies wat binnelands speel, is die Walabies toenemend onder druk op die Springbokke se voorbeeld te volg.

** Stefan Szymanski, hoofleraar in ekonomie aan die Universiteit van Londen, skryf in sy boek Handbook on the Economics of Sport “mededingende balans” is deurslaggewend in die aanbieding van `n suksesvolle sportbyeenkoms of -reeks. Dis al manier om toeskouerbelangstelling te behou – en dis nou ook nie juis kernwetenskap nie.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Henk ·

Dis duidelik dat die klubs in Europa in hulle spelers bele. Anders as wat SARU en sy ewekniee in die suide in hulle administrasie en amptenary en politici bele!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.