Superreeks: Lions se brul ontbreek teen Rebels

Lions teen die Rebels tydens die Superrugbyreeks.. (Foto: Twitter)

Daar sal in die spieël gekyk en diep selfondersoek gedoen moet word oor die Lions se gesukkel in vanjaar se Superrugby-reeks.

Dit nadat die Lions Saterdag in Melbourne met 37 – 17 deur die Rebels geklop is nadat die tuisspan rustyd met 15 – 10 voor was.

Verlede week is die Lions deur die Waratahs (wat ook uit jong onervare spelers bestaan) verrinneweer en dit moet die rooi ligte laat flikker.

Dis nie ongewoon om oorsee te verloor nie, maar wanneer jy die eerste keer in ses wedstryde slae teen die Rebels kry, is daar rede tot kommer.

Voeg daarby dat die Rebels twee geelkaarte (Marika Koroibete en Tom English) gekry het en dus vir 20 minute met net 14 man gespeel het, sal antwoorde gesoek moet word.

Wanneer Maandag ontleding gedoen word, sal die koppe behoorlik geskud word, want die Lions het immers verder met die bal gevorder (416 meter teenoor 387), die bal 112 keer teenoor 87 gedra, die bal meer uitgegee (97 teenoor 36) en veel minder duikslae uitgevoer (84 teenoor 136).

Lions teen die Rebels tydens die Superrugbyreeks.. (Foto: Twitter)

Waar het dinge dan verkeerd geloop?

Gaan kyk maar na verbroude duikslae: Die Lions het 21 keer misgeduik (dis 25% van hul duikslae) teenoor die Rebels se 22 van 136 (net 16%).

Die Lions het ook nege keer besit afgestaan en vier lynstane verloor.

Aangeë het verlore gegaan, die Lions is telkemale agter die voordeellyn gestuit en hulle kon net twee drieë teenoor die Rebels se vyf druk.

Die Rebels se agtsteman, Isi Naisarani, het gereeld oor die voordeellyn gekom, terwyl Willem Alberts dit bitter selde kon regkry.

Die vuur het ontbreek; die vonk kon nie aangesteek word nie.

Almal weet dat die Lions, net soos baie ander spanne, in ʼn oorgangsfase is, dat hulle span bou, dat hulle die stukkies probeer optel.

Maar van die kantlyn af lyk dit nie of daar ʼn gevestigde spelpatroon is nie en of hulle nie weet watter patroon om te volg nie.

Dan gaan dit ook nie oornag gebeur om op John Mitchell, Johann Ackermann en Swys de Bruin se suksesverhale voort te bou nie, want daar is gans te min ervaring op afrigters- en spelersvlak.

Vrae word ook gevra oor Elton Jantjies se kapteinskap, maar ander opsies is skraal.

Daar is uiters talentvolle agterspelers soos Tyrone Green en Wandisile Simelane, maar dan moet hulle in besit van die bal gestel word en genoeg hardloopkanse kry.

Punte: Rebels 37 (15): Drieë: Andrew Kellaway (2), Richard Hardwick, Isi Naisarani, Dane Haylett-Petty. Doelskoppe: Matt Toomua (3). Strafdoele: Toomua (2).

Lions 17 (10): Jamba Ulengo, Sithembiso Sithole. Doelskoppe: Elton Jantjies. Strafdoel: Jantjies (1).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frans ·

Die Leeus is plan en leierloos.Hulle is tussen twee spelpatrone en ‘n onervare afrigtingspan het seker teen die tyd agtergekom dat dit wat in Curriebekerrugby werk nie die mas opkom in Superrugby nie,waar daar talle ervare afrigter is wat spelpatrone vinnig ontleed.

Josua ·

Die agterlyn is n probleem, Tyron Green is die volgende Springbok binne senter vir die bokke en Leeus maar die afrigter sien nie sy potensiaal raak nie, hy is alles behalwe n vleuel, Jantjies is nie die antwoord op Kaptein nie eerder Willem Alberts, drastiese verandering verg drastiese stappe Sean Reanolds kan ook ingespan word op losskakel. Die Leeus se voorspelers is ook nie op standaard nie veral op vlanke, Willem Alberts is ook n beter agtsteman as vlank, die probleem tans is die kombunasies is glad nie reg nie sodra dit uitgeklaar word sal resulte weer begin wys. Gee asb Tyron n kans op binnesenter saam Kriel gee nie om of hy al daar gespeel het nie, sy tipe spel is presies wat die leeus in die agterln nodig het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.