Die boodskap aan die Sharks-afrigter, Robert du Preez, is duidelik: Klop die Blues Saterdagoggend op Edenpark in Auckland of daar sal die res van die seisoen ʼn wolk van onsekerheid oor die Sharks in die Superrugbyreeks hang.
Daar kan nie meer verskonings gemaak word nie: Die Sharks het op een of twee beseerde spelers na die beste spelers tot hul beskikkking en Du Preez kon Donderdag feitlik sy sterkste span kies.
Die Blues, soos soveel keer die afgelope paar seisoene, is in ʼn oorgangsfase, hulle het een van die beste spelers op papier, maar hulle kliek nie.
Daar ontbreek vuur voorlangs, agterlangs word die leemtes week ná week oopgevlek, hul basiese vaardighede is ook nie na wense nie.
Net soos dit jare gelede die geval met Carel du Plessis was, het Tana Umaga, die Blues-afrigter, die All Black-vleuel Rieko Ioane na senter geskuif. Dit was altyd Dok Danie Craven se denkwyse, om balvaardige spelskeppers nader aan die bal te skuif. Maar net soos in Ioane se geval, het Du Plessis nooit te goed op senter gevaar nie, en almal weet dat hy een van die beste vleuels in wêreldrugby was.
Dink ook maar terug aan die All Blacks wat die vleuel Bryan Williams se talente op senter teen die Bokke vermors het.
Lukhanyo Am en André Esterhuizen sal Umaga se hoofpyne òf vererger, òf hy sal geloof word vir sy skuif.
Baie sal ook afhang of Robert du Preez (losskakel) die vertroue wat sy afrigter-pa in hom stel, gestand kan doen. Hy sal verseker wees van skoon besit en sal leiding moet neem, soos verlede jaar by die Stormers en die Westelike Provinsie.
Dan kan die snellers losgelaat word. Só nie, kan dit ʼn lang en onplesierige seisoen in Durban raak, en almal weet waarop dit kan afstuur.
Die spanne –
Sharks
15 Curwin Bosch, 14 Sibusiso Nkosi, 13 Lukhanyo Am, 12 André Esterhuizen, 11 Lwazi Mvovo, 10 Robert du Preez, 9 Louis Schreuder, 8 Lubabalo Mtembu, 7 Jean-Luc du Preez, 6 Philip van der Walt, 5 Stephan Lewies, 4 Ruan Botha (kaptein), 3 Thomas du Toit, 2 Armand van der Merwe, 1 Tendai Mtawarira. Bank: 16 Franco Marais, 17 Juan Schoeman, 18 John-Hubert Meyer, 19 Hyron Andrews, 20 Tyler Paul, 21 Cameron Wright, 22 Marius Louw, 23 Kobus van Wyk.
Blues
15 Michael Collins, 14 Jordan Trainor, 13 George Moala, 12 Rieko Ioane, 11 Melani Nanai, 10 Stephen Perofeta, 9 Jonathan Ruru, 8 Akira Ioane, 7 Murphy Taramai, 6 Jerome Kaoino, 5 Patrick Tuipulotu, 4 Josh Goodhue, 3 Mike Tamoaieta, 2 James Parsons (kaptein), 1 Pauliasi Manu. Bank: 16 Leni Apisai, 17 Ross Wright, 18 Sione Mafileo, 19 Jimmy Tupou, 20 Kara Pryor, 21 Sam Nock, 22 Bryn Gatland, 23 TJ Faiane.
Wat het met Makazole Mapimpi geword? Waarom kies die Sharks hom nie? Hy kan ‘n wedstrud wenner vir enige span wees.