Superrugby-eindstryd: Dié ene is vir Ackers

Johan Ackermann (Facebook: Johan Ackermann)

Wanneer die son Saterdagmiddag begin water trek oor Ellispark, word een van die suksesvolste hoofstukke in Suid-Afrikaanse rugby afgesluit.

Die Lions speel in hul eerste Superrugby-eindstryd tuis (kom ons skuif 1993 se Super10-eindstryd opsy, want dit was in die amateur-era, voordat daar in 1996 die eerste keer in Sanzaar se huidige kompetisie meegeding is).

Ja, die Bulls het die reeks reeds drie keer gewen, maar kom ons staan ʼn rukkie stil by Johan Ackermann, wat die Lions uit die moeras moes lei.

Wen of verloor, die einde van die pad breek aan vir Ackers of coach Ackies, soos hy by sy spelers bekend staan.

Ja, Kitch Christie word allerweë as die groot maanhaar van die Leeu-trop beskou, maar wat Ackermann as afrigter bereik het, sal eers werklik posvat wanneer hy binnekort na Engeland vertrek waar hy Gloucester gaan brei.

Dink maar terug hoe die Lions uit die Superreeks van 2013 geskop is, hoe hulle teruggeveg het om in 2014 se reeks 14de te eindig; net-net die uitspeelrondes in 2015 misgeloop het nadat hulle drie van hul vier wedstryde oorsee gewen het; aan verlede jaar se eindstryd in Wellington toe hulle in reënweer met 20-3 deur die Hurricanes geklop is; en hoe hulle vanjaar byna skoonskip in die reeks gemaak het om boaan die algehele puntelys te eindig.

Dink maar aan Ackers se nalatenskap, aan die 15 spelers wat onder hom Springbok geword het, ʼn rits ander wat vir die Suid-Afrikaanse A-span teen die Engelse Saxons en Franse Barbarians gespeel het. Herkou maar aan die Lions se ondernemende spelpatroon wat oorgedra is na die Bokke en waarvoor Allister Coetzee (en beslis ook Brendan Venter en Franco Smith) die lof kry.

Kan die Lions die Crusaders klop?

Ja, want  ek glo dat die tuisveldvoordeel hul grootste bondgenoot sal wees. Ook as die Crusaders nie daarin slaag om Ross Cronjé en Elton Jantjies te ontsenu nie.

Die Crusaders, wat gelaai is met All Blacks, het ál vyf wedstryde gewen wat hulle vanjaar oorsee gespeel het. Hulle het gemiddeld 43 punte in daardie wedstryde aangeteken, maar as hulle nie in die tweede helfte ʼn gerieflike voorsprong het nie en die longe begin brand, sal die slag geslaan word.

Dink maar terug aan verlede jaar se tweede toets tussen die Bokke en Iere op Ellispark, en aan verlede week se halfeindstryd teen die Hurricanes.

Die Lions skuld ʼn oorwinning aan Ackermann, en SA Rugby skuld ʼn erkenning aan Ackermann, want hy moes nou in die Bokke se kamp gewees het.

Die spanne –

Lions

15 Andries Coetzee, 14 Ruan Combrinck, 13 Lionel Mapoe, 12 Harold Vorster, 11 Courtnall Skosan, 10 Elton Jantjies, 9 Ross Cronjé, 8 Ruan Ackermann, 7 Albertus Smith, 6 Jaco Kriel (kaptein), 5 Francois Mostert, 4 Andries Ferreira, 3 Ruan Dreyer, 2 Malcolm Marx, 1 Jacques van Rooyen. Bank: 16 Armand van der Merwe, 17 Corné Fourie, 18 Johannes Jonker, 19 Lourens Erasmus, 20 Cyle Brink, 21 Francois de Klerk, 22 Rohan Janse van Rensburg, 23 Sylvian Mahuza.

Crusaders

15 David Havili, 14 Israel Dagg, 13 Jack Goodhue, 12 Ryan Crotty, 11 Seta Tamanivalu, 10 Richie Mo’unga, 9 Bryn Hall, 8 Kieran Read, 7 Matt Todd, 6 Jordan Taufua, 5 Sam Whitelock (kaptein), 4 Scott Barrett, 3 Owen Franks, 2 Codie Taylor, 1 Joe Moody. Bank: 16 Ben Funnell, 17 Wyatt Crockett, 18 Michael Alaalatoa, 19 Luke Romano, 20 Pete Samu, 21 Mitchell Drummond, 22 Mitchell Hunt, 23 George Bridge.

Afskop: 16:00

Skeidsregter: Jaco Peyper (SA).
Assistentskeidsregters: Glen Jackson (Nieu-Seeland), Marius van der Westhuizen (SA).
TV-skeidsregter: Marius Jonker (SA).
Verwagte weer: Mooi weer, maar effens koel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Nico ·

Moenie veegeet dat dit einste Pypers wat môre blaas is wat hulle teruggebring het in Superrugny nie. Onthou julle nog sy ”blapse” in die 1ste relugasie wedstryd in die Baai en wat het toe op Ellis Park gebeur? So as dit nie vir daardie dag was nie was hulle dalk nie môre on die eibstryd nie.

Christo Visagie ·

Nico,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,, hulle sou onder Johan Ackermann nie lank gevat het om te bereik wat hulle nou bereik het nie en kyk hoe gee hulle nou die Kings pakslae,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,

JG ·

Nico…Nico…moet jouself nie nou vreemde dinge wys-maak nie…jou gesanik vermaak niemand nie. Staan liewer soos n trotse Suid Afrikaner bank-vas agter die Leeus…. ou Grote….

Frans C ·

Dit is tog jammer dat daar altyd mense moet wees wat nie die son oor ander kan sien skyn nie
en altyd ‘n stekie of twee moet inkry om ‘n ander span se sukses verdag te maak,soos Nico.

Lions 4 Life!!!! ·

Nico gaan slaap asb jy weet nie waarvan jy praat nie! Leeus ons is agter julle en ek weet julle kan dit doen! wen of verloor ek bly ‘n LEEU!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.