Superrugby: Rassie sal langer moet wag

Dillyn Leyds – losskakel. (Foto GB Jordaan)

Rassie Erasmus gaan met die intrapslag as Springbokafrigter sy eerste voorsmaak van Nieu-Seelandse teenstand kry wanneer die Crusaders Saterdag in Christchurch in die Superrugbyreeks teen die Stormers speel.

Erasmus het in sy speeldae in vyf toetse met die All Blacks te doene gekry. Hy was drie keer aan die wenkant (ai, hoe verlang ons nie terug na daardie dae nie); en as speler by die Vrystaat en destydse Cats het hy in die Superreeks ʼn hele paar sesioene met die Nieu-Seelandse spanne meegeding. Boonop was hy as Stormers-afrigter ʼn paar jaar lank ook in die voorste linie.

Hy weet dus haarfyn hoe om die All Blacks en Nieu-Seelandse spanne te te klop, agter die voordeellyn te stuit, hulle tot foute te dwing, hul spelpatroon te ontwrig en dan streepsuiker te gee.

Dis Saterdag die eerste keer dat hy amptelik in sy nuwe pos antwoorde op van dié vrae kan kry, maar ek is bevrees dat hy ʼn rukkie langer sal moet wag, al het die afrigter Robbie Fleck agt Springbokke in sy Stormers-opdrafspan ingesluit.

Die Crusaders is die huidige kampioen en die suksesvolste span in Superrugby. Hulle het 14 van hul jongste 16 kragmetings met die Stormers gewen, en hul laaste nederlaag tuis teen ʼn oorsese span was in 2015 toe hulle deur die Rebels geskok is.

Boonop waag Fleck met die heelagter/vleuel Dillyn Leyds as losskakel … slegs die tweede keer in sy Superloopbaan dat hy die nr. 10-trui sal dra.

Is die Kaapse spens werklik so leeg? Ja, daar is die beserings aan Damian Willemse en Jean-Luc du Plessis, en Robert du Preez is terug Durban toe, maar hoe lankal weet Fleck-hulle van dié skuif? Wat maak George Whitehead daar, of was dit bloot ʼn swak kopie?

Daar is baie min onderstenuers wat die Stormers ʼn wenkans gun, want nie almal glo aan die tandemuis nie.

Sunwolves teen Rebels

♦ Vroegoggend pak die Sunwolves, gelaai met 10 buitelandse spelers, die Rebels in Tokio. Dis sekerlik al wyse waarop die Sunwolves en Japanse nasionale span se afrigter, Jamie Joseph, ʼn oorwinning kan verseker, maar is dit hoe rugby in Japan bevorder wil word? Dis soortgelyk aan Montpellier in Frankryk en kyk maar net watter skade is daar aan die Franse nasionale span aangerig.

Saterdag se oorsese bepalings –

06:35: Sunwolves t. Rebels in Tokio.

08:35: Crusaders t. Stormers in Christchurch.

23:45: Jaguares t. Hurricanes in Buenos Aires.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Lol ·

Korrek Pieter rakende Stormers. Dis rustyd waneer ek die plaas en dis reeds 31-7. Fleck en kie mos op die soustrein.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.