Superrrugby: SA spanne vaar swakste van almal

Dis al hoeveel keer geskryf en gesê, maar bestendigheid, of eerder ʼn gebrek daaraan, bly maar een van die remskoene van Suid-Afrikaanse rugby.

Dis hoekom die Nieu-Seelandse spanne die Superrugbyreeks jare lank al oorheers, omdat hul topspanne bestendig is.

Van die 47 wedstryde wat die vyf Nieu-Seelande spanne vanjaar al gespeel het, was hulle in 31 daarvan aan die wenkant, vir ʼn wenpersentasie van 65,95 (en dit sluit die sukkelende Blues in, wat reeds sewe keer verloor het).

Van die 42 wedstryde waarin die vier Suid-Afrikaanse spanne gespeel het, het hulle net 19 gewen – ʼn wenpersentasie van slegs 45,23. Veel erger, die vier Australiese spanne het 16 van hul 33 wedstryde gewen: ʼn wenpersentasie van 48,48!

Die Hurricanes het vanjaar nog net een keer verloor, die Crusaders twee keer en die Highlanders en Chiefs elk drie keer.

En in Suid-Afrika? Die Lions en Sharks het reeds vyf keer streepsuiker gekry en die Stormers en Bulls elk ses keer.

Maar wanneer die Sharks soos Saterdag op Kingspark teen die Highlanders speel (38-12) is daar baie min spanne wat kers by hulle kan vashou. Groot vaart en ondernemingsgees agterlangs, ʼn vaste vyf om van te droom.

Die Stormers kan ook tevrede wees nadat hulle die Bulls met 29-17 op Nuweland ore aangesit het. Ook het hul vaste vyf die trant aangegee, en al kla John Mitchell, die afrigter van die Bulls, ook al hóé oor die Kiwi-blaser Glen Jackson, wag daar eerder nog harder skaafwerk op die oefenveld.

Die Lions sou Sondagoggend in Wellington spreekwoordelik wakker geskrik het as hulle die Sharks en Stormers se opmars onder die oë neem en die Superrugbypuntelys bestudeer.

Die Lions was slegs twee weke gelede nog in ʼn byna onaantasbare posisie, maar ná hul droogmakery teen die Reds (17-22) en Saterdag se verloorslag teen die Hurricanes (19-28), is hul groot buffer byna daarmee heen.

Die Lions (31 punte ná 11 wedstryde) is tweede op die algehele punteleer en steeds eerste in die Suid-Afrikaanse afdeling, maar die Sharks (23 punte ná tien wedstryde) raak nou binne trefafstand, en in die Kaap word daar vas geglo dat die Stormers (22 punte na 11 wedstryde) ook nog die uitkloprondes kan haal.

Al manier waarop twee Suid-Afrikaanse spanne (die span wat boaan die SA groep eindig, dring outomaties deur) die uitspeelrondes kan haal, is egter as hulle meer bestendig is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Frans C ·

Suid Afrika wil beroepsrugby speel maar dit soos amteurrugby hanteer.Dit help nie om te kla nie wantwaar NZ en tot ‘n mate Australie glad nie skaam is om hul spanne met Suid See eilandspelers te laai nie,gun plaaslike ondersteuners mekaar nie ‘n plekkie in die son nie en kraak mekaar gedurig af.

Dit help nie afrigters bou aan spanne nie net om te sien hoe hul plaaslik deur ander spanne afgerokkel word of oorsee vertrek.Ons spanne kan nooit met gedurige speler
wisseling bestendig wees nie.Verloor ‘n span soos die Lions ‘n paar sleutelspelers is hul in die moeilikheid.
Daar word groot ophef van die Du Preez by die Sharks gemaak,maar nie soland gelede
is ‘n hele paar Lionslosvoorspelers soontoe om later oorsee te verdwyn.Wenspanne
maak pawiljoene vol,verloorspanne is leë pawiljoene en leë beursies.

Ons kan nie beroepsrugby soos amateurs hanteer nie.Dit is beter om speler toewysing soos NZ te hanteer asom die gedurige rondskuiwery te hanteer.Laat spanne toe om ook
oorseese spelers te kontrakteer en vergeet van kwotas,Ondersteuners is blind in die opsig en niemand kla dat die een du Preez van die Stormers na die Sharks verskuif het,solank die span net wen,maak dit nie saak waar vandaan spelers van kom nie.

Of dit goed is vir Bokke is ‘n ander saak.

Snuffels ·

Pieter sluit daai statistiek nou die wedstryde wat NZ spanne teen mekaar ook speel in? Indien wel…dink ek nie daai is vir my n akkurate beskrywing van die verskillende lande nie. So hulle bring hulle eie wen persentasie af??? Sluit die derby’s uit en kyk weer

Jack Klok ·

Rugby is lankal nie meer ‘n sport nie maar het ‘n besigheid geword. Die ANC se beleid van AA en BBBEE geld ook vir rugby, nie net wat spelers betref nie maar ook die admninistrasie, afrigting en ander fasette daarvan.

AA en BBBEE stel wetlike vereistes wat anti-prestasie gemik is. Dit beloon onbevoegdheid en straf uitnemendheid. Daarom het Suid-Afrika op alle wereld indekse geval, of dit nou kwaliteit van onderwys, gesondheidstelsels, misdaad,
winsgewendheid van maatskappye,regeringsdoeltraffendheid of sportprestasies is, alles is in trurat.

Regeringsinmenging het gewoonlik meer nadelige as vordelige gevolge.

paul ·

Pieter Kruger moet ons nog steets net noord kyk vir n bok span soos jy n paar weke trug ge skryf het .Na die naweek moet ons weer suid kyk of hoe?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.