Superrrugby: Stormers kry slae, maar gaan darem nie lê nie

Dis nie aldag dat ʼn rugbyspan met 17 punte geklop word maar steeds lof ontvang nie.

Die Stormers is Saterdag in Christchurch met 45-28 in die Superrugbywedstryd teen die Crusaders geklop nadat hulle rustyd reeds met 7-31 agter was.

Die Crusaders sou teen menige ander spanne amok gemaak het nadat hulle reeds ná 20 minute met 26-0 voor was, maar die Stormers het nie gaan lê nie; hulle het opgestaan en teruggeveg. Namate die wedstryd gevorder het en die agterstand tot net 10 punte (21-31) gekrimp het, het die hoop selfs opgevlam dat die Stormers die byna onmoontlike sou regkry deur te wen.

Die Stormers het momentum gehad en die plaasvervangersbank het nuwe lewe in die span geblaas; die Crusaders is agter die voordeellyn gesmoor en hulle het foute begaan.

Maar die Stormers kon nie volhou nie en nog twee drieë deur die Crusaders het die Stormers-vlam geblus voordat Steven Kitshoff die Stormers se vierde drie gaan druk het nadat speeltyd reeds verby was.

Ligpunte: Die Stormers het vier drieë gedruk, hoewel almal deur vaste voorspelers. Kitshoff, JC Janse van Rensburg, Wilco Louw en Cobus Wiese was aan die brand. En Damian de Allende het byna elke keer weer oor die voordeellyn gekom (hoewel hy baie voorspelbaar was).

Ja, die Crusaders was sonder ʼn rits All Blacks en as ons eerlik moet wees, was hulle vir 60 minute in beheer, maar ten minste het die Stormers nie boedel oorgegee nie.

Puntemakers –

Crusaders (31) 45: Drieë: George Bridge (2), Codie Taylor, Billy Harmon, Bryn Hall, Seta Tamanivalu, Richie Mo’unga. Doelskoppe: Mo’unga (5).

Stormers (7) 28: Drieë: JC Janse van Rensburg, Wilco Louw, JD Schickerling, Steven Kitshoff. Doelskoppe: SP Marais (4).

♦  Vroeg Saterdagoggend het die Rebels hul twee opeenvolgende oorwinning behaal toe hulle die Sunwolves met 31-17 in Tokio geklop het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frans C ·

Die Crusaders is sonder hul All Blacks steeds ‘n moeilike span om op sy tuisveld te klop.
Stormers speel by tye goed,maar maak dit dan ongedaan met foute.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.