Superrugby: Beserings, ruskans kan agtste span en uitspeelplekke bepaal

Beserings en ruskans vir ʼn aantal voorste spelers kan die naweek in die laaste ronde van die Superrugby-reeks meewerk om die finale spanne vir die kwarteindronde en ook hul teenstanders te bepaal.

Sewe van die finale agt kwarteindspanne is reeds bekend. Die enigste verandering sou wees as die Sharks (tans negende) op Kingspark teen die Jaguares wen en die Rebels (tans agtste) verloor in Dunedin teen die Highlanders om die kwarteindronde te haal.

Die naweek se uitslae kan in ʼn paar gevalle bepaal wie teen wie in die kwarteindwedstryde sal speel.

♦ Vir die Sharks was daar egter met die spanaankondigings vir die naweek goeie en slegte nuus.

Enersyds word die Durbaniete se taak oënskynlik vergemaklik deur die ruskans van ʼn aantal van Jaguares se voorste spelers; aan die ander kant het die Highlanders, wat die Rebels moet klop om die Sharks se pak kwarteindronde toe oop te maak, feitlik ʼn B-span teen die Rebels gekies.

Ondermeer kry die Highlanders se voorste All Blacks Ben Smith, Aaron Smith en Luke Whitelock ʼn ruskans terwyl van die ander voorste spelers, insluitende die flank Elliot Dixon, die haker Ash Dixon en die senter Rob Thompson, vir die kwarteindronde gespaar word.

Die goeie nuus vir die Sharks is dat die Jaguares se uitsoek-skakelpaar Nicolas Sanchez en Gonzalo Bertranou en hulle invloedryke heelagter Emiliano Boffelli nie speel nie. ʼn Nuwe senterpaar, ʼn nuwe voorry en twee veranderinge aan die losvoorspelers en een op slot sal die span verder verswak.

Dit sal egter nie vir die Sharks help as die Rebels wen nie … Maar hulle het self twee Wallabies wat weens beserings Saterdag nie kan speel nie.

♦ Die veranderinge deur die Jaguares se afrigter Mario Ladesma kan egter die Jaguares aan die hakskeen byt as die Lions op Ellispark teen die Bulls sou verloor.

Die Jaguares is net drie ligapunte agter die Lions, wat deur ʼn neerlaag sy outomatiese tuis-kwarteindstryd sal verbeur as die Jaguares ook die Sharks sou troef. Dit sal aan die Jaguares ʼn tuis-kwarteindstryd besorg.

Die wedstryd op Kingspark is die laaste van vanjaar se Superreeks, en die Sharks sal teen daardie tyd weet wat hulle te doen staan.

♦ Die Lions se kanse word effens aangehelp deur die besering aan die Bulls se mees invloedryke speler en instaan-kaptein, Handré Pollard. Die Springboklosskakel kan weens ʼn rugbesering nie speel nie. Met die span se kaptein Burger Odendaal wat steeds beseer is, neem die Bokslot RG Snyman nou die kapteinskap oor.

Vrydag se rugby
Die naweek se rugby skop Vrydag af met die Hurricanes en die Chiefs wat in Waikato teen mekaar speel. Hulle vierde en vyfde posisies sal gehandhaaf word, behalwe as die Chiefs met meer as 40 punte kan wen.

Die ander wedstryd Vrydag is die niksseggende kragmeting tussen die Reds (13de op die punteleer) en die Sunwolves (laaste). Dit is die twee spanne met die grootste punteverskil van die 15 spanne in die reeks.

Saterdag se rugby
Die verdedigende span en voorloper op die punteleer, Crusaders, kom in Christchurch teen die wisselvallige en hoofsaaklik powere Blues te staan (09:35); daarna speel die voorste Australiese span, die Waratahs in Sydney teen die Brumbies (11:45) voordat die Lions en Bulls (15:05m op Ellispark) en die Sharks en Jaguares (17:15 op Kingspark) kragte meet.

Suid-Afrikaanse spanne en teenstanders ‒

Lions vs Bulls, Ellispark, Saterdag 15:05

Lions
15 Andries Coetzee, 14 Ruan Combrinck, 13 Lionel Mapoe, 12 Harold Vorster, 11 Courtnall Skosan, 10 Elton Jantjies, 9 Nic Groom, 8 Warren Whiteley (kaptein), 7 Cyle Brink, 6 Kwagga Smith, 5 Franco Mostert, 4 Marvin Orie, 3 Ruan Dreyer, 2 Malcolm Marx, 1 Jacques van Rooyen. Bank: 16 Corné Fourie, 17 Johannes Jonker, 18 Jacobie Adriaanse, 19 Lourens Erasmus, 20 Marnus Schoeman/Hacjivah Dayimani, 21 Ross Cronjé, 22 Aphiwe Dyantyi, 23 Howard Mnisi/Shaun Reynolds.
Bulls
15 Warrick Gelant, 14 Travis Ismaiel, 13 Jesse Kriel, 12 Johnny Kotze, 11 Jamba Ulengo, 10 Manie Libbok, 9 Ivan van Zyl, 8 Hanro Liebenberg, 7 Thembelani Bholi, 6 Marco van Staden, 5 RG Snyman (kaptein), 4 Jannes Kirsten, 3 Conraad van Vuuren, 2 Jaco Visagie, 1 Pierre Schoeman. Bank: 16 Johan Grobbelaar, 17 Matthys Basson, 18 Mornay Smit, 19 Ruan Nortje, 20 Nick de Jager, 21 Embrose Papier, 22 Boeta Hamman, 23 Divan Rossouw.

Sharks vs Jaguares, Kingspark, Saterdag 17:15

Sharks
15 Curwin Bosch, 14 Kobus van Wyk, 13 Lukhanyo Am, 12 Andre Esterhuizen, 11 Lwazi Mvovo, 10 Robert du Preez, 9 Louis Schreuder, 8 Daniel du Preez, 7 Jacques Vermeulen, 6 Philip van der Walt, 5 Ruan Botha (kaptein), 4 Tyler Paul, 3 Thomas du Toit, 2 Akker van der Merwe, 1 Beast  Mtawarira. Bank: 16 Chiliboy Ralepelle, 17 Juan Schoeman, 18 John-Hubert Meyer, 19 Hyron Andrews, 20 Wian Vosloo, 21 Cameron Wright, 22 Marius Louw, 23 Makazole Mapimpi.
Jaguares
15 Ramiro Moyano, 14 Bautista Delguy, 13 Matias Moroni, 12 Bautista Ezcurra, 11 Sebastian Cancelliere, 10 Joaquín Díaz Bonilla, 9 Martin Landajo, 8 Juan Manuel Leguizamón, 7 Marcos Kremer, 6 Pablo Matera (kaptein), 5 Tomas Lavanini, 4 Matias Alemanno, 3 Santiago Medrano, 2 Julian Montoya, 1 Javier Diaz.
Bank: 16 Agustin Creevy, 17 Santiago Garcia Botta, 18 Nahuel Tetaz Chaparro, 19 Guido Petti, 20 Javier Ortega Desio, 21 Gonzalo Bertranou, 22 Nicolas Sanchez, 23 Emiliano Boffelli.

 

 

 

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

nico k ·

Dit klink my die Jaquares het aanvaar dat die Leeus gaan wen teen die Bulle. Ek dink hulle is reg.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.