Superrugby: Bulls, as dit reën dan hol jy mos nie!

Daar is sekere dae dat jy hardlooprugby kan speel, maar daar is ander dae waar jy maar eerder op direkte rugby moet terugval.

Dit het die Crusaders Vrydag in Christchurch bewys toe hulle die Bulls met 33-14 in ʼn slordige wedstryd geklop het nadat hulle met rustyd reeds met 21-7 voor was.

Die Bulls het nog net een keer in Christchurch gewen, in die eerste kragmeting in 1996, en soos hulle Vrydag gespeel het, sal hulle nog ʼn paar jaar langer moet wag.

Jy kan nie net op Plan A staatmaak nie. Om die mees suksesvolle en bestendige span in Superrugby te kan klop, moet jy ook ander planne maak en by die toestande aanpas.

Die Bulls was van plan om met hul nuwe ingedrilde hardlooppatroon te volhard, maar vanweë die reënweer was dit nie moontlik nie. Dalk moes hulle takties veiliger gespeel het en nie net die bal probeer rondgooi  het nie. Hulle het baie meer aangeë (118 teenoor 60) as die Crusaders uitgevoer en hulle het meer veld op die aanval gewen, maar kon hulle drieë druk?

Dit het ook nie gehelp dat die Bulls elke keer kantlyn toe geskop het toe hulle strafskoppe binne trefafstand gekry het, maar hul rolmale telkemale gestuit is nie. Lees maar daarin die invloed van die ervare Sam Whitelock, Scott Barrett en Wyatt Crockett.

Dit het ook nie gehelp dat hulle keer op keer agter die voordeellyn betrap is wanneer die bal wyd versprei is nie. Lees maar die rede in Ryan Crotty, een van die beste verdedigers en planmakers in Nieu-Seelandse rugby.

Met ʼn nat, gladde bal en speeloppervlak wil jy eintlik nie besit oorheers tensy jy met die voorspelers speel en jou skakelpaar die bal voor hulle hou nie.

Ja, dalk is dit deel van John Mitchell se plan en leerproses, maar só kan die Bulls dalk meer skade opdoen as bou.

Puntemakers –

Crusaders (21) 33: Drieë: Scott Barrett, Codie Taylor, Jack Goodhue (2), George Bridge. Doelskoppe: Mitchell Hunt (4).
Bulls (7) 14: Drieë: Travis Ismaiel, Marco van Staden. Doelskoppe: Handré Pollard (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Marius ·

As jy met meer aangee meer veld wen, maar jy telling weerspieel dit nie, le jou probleem nie in die spel patroon nie… Dan bleik afro ding die probleem te wees. Ek stem egter saam met die kommentaar rakende strafskoppe binne tref-afstand…

What a joke! ·

Daars nie medisyne vir domheid nie…sorry en eks ou bul ondersteuner!

Frans C ·

Die Bulls se dryfbewging van die lynstaan het twee keer misluk maar nogtans het hul dit ‘n derde keer probeer.Hoekom was daar geen afwisseling nie?

Riaan ·

Snaak na die bulle een game gewen het toe wen hulle ondersteuners al die beker.
Amal drae blou bul truie en waai vlae.
Nou skielik is niemand in die hele Pta n blou / geel bul ondersteuner nie???

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.