Superrugby: Bulls, luister maar na die liedjie ‘Pale Toe’

Daar is sekere dinge in rugby wat jy nie blindelings moet verander nie, soos om pale toe te skop wanneer die geleentheid daar is.

Ja, dalk word daar geglo dis ouderwets, maar jy kan nie sommer net ʼn wedstryd wen deur net meer drieë te druk nie – nie vandag nie, en ook nie jare gelede nie.

Dit het Saterdag op Loftus Versfeld wéér gebeur toe die Highlanders die Bulls met 29-28 geklop het. Vir diegene wat nog nie weet nie: die Bulls het vier drieë (een was ʼn strafdrie) teenoor twee gedruk en heeltemal oorheers, maar die verskil was die Highlanders se losskakel, Lima Sopoaga.

Hy het met vyf strafdoele geslaag terwyl die Bulls nie wou aanlê pale toe nie.

Herinner dit nie aan 2013 se halfeindstryd teen die Brumbies op Loftus nie toe die destydse Bulls-kaptein, Dewald Potgieter (boonop met Morné Steyn in sy span), ook besluit het om by verskeie geleenthede nie pale toe te skop nie en die Brumbies met 26-23  gewen het?

Soos Victor Matfield tereg opmerk: Jy skop net kantlyn toe as jy die bal vyf meter van die ander span se doellyn af uitskop. Dan het jy ʼn kans van sowat 80% om ʼn drie te druk. Maar wanneer jy die bal verder van die doellyn af uitskop, verminder jou driedrukkanse.

Dus, wanneer die Bulls Maandag hul videosessie hou, luister gerus maar Leon Schuster se liedjie, “Pale Toe”.

Ja, die afrigter, John Mitchell, is besig om die Bulls se denk- en speelpatroon drasties te verander, maar sou dit nie lekkerder gewees het om die Nieu-Seelanders se neuse (met net één suksesvolle strafdoel) in die grond te vryf nie?

Dit was ʼn droewige naweek vir Suid-Afrikaanse rugby nadat die Reds ook die Lions met 27-22 in Brisbane geklop het.

Hoe verduidelik jy dit aan enigiemand hoe die Lions, wat tweede op die algehele puntelys (31 punte) is, teen die Blues (14de op die puntelys) en Reds (12de) kon verloor het en net met 40-38 teen die agteros, die Sunwolves, op Ellispark deurgeskraap het?

♦  Die Stormers het darem hul wendroogte Vrydag op Nuweland gebreek toe hulle die Rebels met 34-18 geklop het. Ja, dit was beter, maar nou lê onder meer die Bulls, Lions en Sharks voor en maklik gaan dit nie wees nie.

Dit laat ʼn mens sidder dat dalk net een Suid-Afrikaanse span, die Lions (31 punte), seker van ʼn plek in die kwarteindronde lyk saam met vier Nieu-Seelandse spanne Crusaders (33), Hurricanes (32), Highlanders (28) en Chiefs (26).

Dan kan die Waratahs (24) as Australiese kwalifiseerder deurdring, maar die Rebels (21) en Jaguares (20) kan sake vir ʼn tweede Suid-Afrikaanse span beduiwel.

Dís hoekom jy moet pale toe skop wanneer die geleentheid hom voordoen!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

DHK ·

Soos die afgelope twee seisoene se “skitter” resultate van die Bokke bewys? Ha ha, ha ha ha….!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.