Superrugby: Bulls mik na herhaling van 2015-sege

Die Lions het drie seisoene laas teen ʼn Suid-Afrikaanse span in die Superreeks verloor.

Dit was in 2015 op Loftus teen die Bulls en die telling was ʼn naelskraapse 35-33. Maar daar het sedertdien baie verander.

Vir Saterdag (17:15) se wedstryd op Loftus het albei spanne ʼn nuwe afrigter en afrigtingspan; net twee van daardie Bullswenspan, Handré Pollard en Jesse Kriel, wat toe heelagter was, is in Saterdag se opdrafspan en een (Adriaan Strauss) op die bank. Burger Odendaal begin ook Saterdag en is dié keer die kaptein nadat hy destyds op die bank was.

Die Lions se ses spelers wat in daardie 2015-verloorwedstryd opgedraf het, was Andries Viljoen (vleuel), Elton Jantjies, Jacques van Rooyen, die slotte Andries Ferreira en Franco Mostert (Saterdag as flank) en Warren Whiteley, terwyl Ross Cronjé en Ruan Dreyer toe op die bank was.

♦  Nou wat sê hierdie geskiedenis vir ʼn mens? Niks. Behalwe miskien dat dit twee feitlik nuwe spanne is, en dat daardie Bulls in 2015 nog met hulle tradisionele speelpatroon van dryf en dryf gespeel het.

Terwyl die Lions onder Swys de Bruin met enkele verstellings speel soos hulle tóé en sedertdien gedoen  het, het die Bulls onder die voormalige Lionsafrigter John Mitchell nou ʼn heel ander benadering ontwikkel en oënskynlik onder die knie gekry.

Die Bulls het verlede week teen die Hurricanes met groot selfvertroue gehanteer – en dit merendeels goed gedoen. Hulle het in die vaste fasette en ook in die vastelos die Hurricanes ore aangesit.

Die Lions het nie heeltemal teen die Jaguares oortuig nie, in elk geval nie tot in die tweede helfte nie.

♦  Die Lions het vyf van hul laaste wedstryde teen die Bulls gewen, en is die ongetwyfelde gunstelinge. En só sê die beroepswedders ook.

Maar, só sal hulle op Loftus weet en veral hoop, in ʼn derby is enigiets moontlik.

Wat ook al gebeur, en wie ook al mag wen: Dit gaan ʼn rigtingwyser vir die toekoms en aanduiding van Suid-Afrikaanse rugby se krag wees.

Sharks vs Waratahs, Kingspark, Saterdag (15:05)

Die Waratahs was verlede week bra onoortuigend in hul naelskraapse maar tog verdiende sege teen die Stormers.

Hulle speel Saterdag (15:05) in die vroeë Suid-Afrikaanse wedstryd op Kingspark teen die Sharks wat met ʼn paar beseringsprobleme sukkel, nie in hulle eerste wedstryd twee weke gelede op Ellispark goed vertoon het nie en boonop verlede week nie ʼn wedstryd gehad het nie.

Hulle kry dus Saterdag teen die Aussies die eerste kans om te sien of dít waaraan hulle twee weke geskaaf het, in die praktyk sal werk.

Dit is ook ʼn gulde geleentheid om hulself te toets teen ʼn span wat nie veel om die lyf het buiten die gevaarlike Wallaby-agterspelers Issy Folau, Kurtley Beale en (selfs) Bernard Foley nie.

Die Tahs is deur die Stormers in die skrums oordonder en behoort weer swaar te kry. Met Beast Mtawarira wat terug in die beginspan is, sal Thomas du Toit met ʼn stewige pak om hom Saterdag goeie oefenkans op vaskop kan kry.

Die Sharks het ook die naweek hulle uitsoek-skakelpaar Louis Schreuder en Robert du Preez wat sake kan dikteer – en veral met goeie skopwerk die bal uit Folau-hulle se hande kan hou.

Die Sharks se diepte, met ʼn splinternuwe lostrio waar hulle sonder Philip van der Walt en die Du Preez-tweeling, Jean-Luc en Dan, moet klaarkom, sal deeglik teen veral Michael Hooper getoets word.

Dié flank en Waratahs se kaptein draf Saterdag die 58ste opeenvolgende keer vir sy span op.

Terloops: die Sharks het die ander voordeel dat die tuisspan in wedstryde tussen dié twee die laaste ses keer gewen het.

En dit sê natuurlik niks…

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Emsa ·

Ja Nakkie die Nar, Leeus is beslis nie donkies nie. Ek dink dis n puik prestasie van die leeus. Baie sterke vir alle Suid Afrikaanse spanne vir Superreeks

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.