Superrugby: Bulls rooi van die blapse teen die Reds

Foto: Springboks/Twitter

Hoe verduidelik jy dit vir enige rugbyondersteuner? Die Bulls het Saterdag in Brisbane soos ʼn Ferrari weggespring en binne die eerste 20 minute van hul Superrugbywedstryd met 17-0 teen die Reds voorgeloop, maar toe soos ʼn skedonk geëindig  toe hulle 17-41 verloor het.

Soos hulle sê, die wiele het behoorlik afgeval, inteendeel, dit was die hele enjin wat die gees gegee het.

Altesame 41 onbeantwoorde punte in 60 minute … en dit teen die Reds?

ʼn Mens wil nie net ʼn span skop nie, ʼn mens wil nie net kritiek uitdeel nie, maar hoe anders kan jy die vertoning van die Bulls in die laaste 60 minute opsom? Hoe kan jy drie vinnige drieë druk, die Reds van hul voete af speel met Warrick Gelant, Rosko Specman en Johnny Kotze wat soos Springbokke vertoon het, maar dan letterklik en figuurlik die bal laat val?

Boonop het die Reds ʼn geel kaart afgestaan nadat die senter Chris Feauai-Sautia ʼn geelkaart vir ʼn laatvat gekry.

Maar toe loop dinge alles verkeerd.

Waar was die passie, durf en vuur, die nodige vaardighede en rotsvaste verdediging?

Dit het straks begin toe die afrigter, Pote Human, die oënskynlike fout begaan deur die skakelpaar, Embrose Papier (skrumskakel) en Manie Libbok (losskakel) wat albei flink vertoon het, met Ivan Zyl en Morné Steyn te vervang. Hoekom, het Naas Botha ná die kragmeting in die SuperSport-ateljee gevra, was dit nodig? Dit het die ritme versteur, dit het die angel uit die aanvalle gehaal, dit het van die Bulle bloot papiertiere gemaak.

Maar dan het die voorspelers ook nie juis hul kant gebring nie.

Kom ons kyk na die statistieke:
Die Reds het 610 meter met die bal gevorder en die Bulls net 385.
Die Reds het die bal 146 keer gedra en die Bulls net 101 keer.
Die Reds het die bal 149 keer uitgegee en die Bulls 125.
Die Reds het in die los oorheers (91 teenoor 64), hulle het verskeie strafskoppe in die skrums afgedwing, hulle het hul lynstane gewen.
Boonop het die skeidsregter, Mike Fraser, die Bulls 14 keer gestraf teenoor die Bulls se 5.

Die Bulls het onlangs diep selfondersoek gedoen nadat hulle teen die Blues verloor het. Die spelers het verantwoordelikheid aanvaar, hulself reggeruk en die Highlanders verlede Saterdag ore aangesit. Hulle het wonderlik teen die Reds vir 20 minute vertoon, maar toe skandes in die res van die wedstryd gemaak.

Vergeet van die beloftes dat hulle hul lywe vir mekaar op die spel plaas, vergeet daarvan dat hulle vir die trui speel, vergeet daarvan dat die spangees reg is. Kyk na die telbord. Daar is groot fout … maar wat is die antwoorde?

Puntemakers: Reds 41 (15): Drieë: Liam Wright, Lukhan Salakai-Loto, Alex Mafi, Taniela Tupo, Isaac Lucas, Harry Hoopert. Doelskoppe: Bryce Hegarty (4). Strafdoel: Hegarty.

Bulls 17 (17): Drieë: Embrose Papier, Rosko Specman, Warrick Gelant. Doelskop: Manie Libbok.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Frans ·

Die Reds is totaal onkant gevang toe die Bulle inteenstelling met hul ou patroon die bal vinnig na die punte versprei het.Dit het die Reds ‘n rukkie geneem om hul verdediging in die opsig in orde te kry en toe dit gebeur is die wedstryd eenvoudig omgedraai en kon die Bulle nie by dit aanpas nie.

Selfs spelers soos Manie Libbok het foute begin maak en kon nie by geleentheid die kantlyn haal nie
en kon die voorspelers nie weer beheer van die wedstyd neem nie en verval die Bulle weer in hul ou patroon asof hul selfvertroue geknak was toe die Reds begin punte aanteken.

Scalla ·

Mooi begin, maar te veel blapse het hul die game gekos, gaan terug tekenbord toe.

DERICK ·

Groot fout by die Bulle.
1 Swak patetiese afrigter
2 Geen kaptein
3 Hulle koop “has beens” koop die naam en nie die speler nie. As P S du Toit oor die muur is gaan hulle hom koop, want hy was mos speler van die jr.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.